Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Temba ’n toekomstige Protea-kaptein’

Enoch Nkwe verstaan dat die huidige Suid-Afrikaanse krieketspan op die oog af nie vreeslik “getransformeer” lyk nie. Maar die Protea-hulpafrigter glo dít gaan binnekort verander.

Trouens, hy glo Suid-Afrika kan selfs binnekort sy eerste swart toetskrieketkaptein kry: Temba Bavuma.

Enoch Nkwe (links) en Temba Bavuma omhels mekaar as afrigter en kaptein van die Lions. Regs van hulle is Ntsongo Sibiya, voorsitter van die Black African Cricket Clubs en raadslid van die Gauteng Lions, saam met Greg Fredericks, die voormalige uitvoerende hoof van die Gauteng Lions. Foto: Gallo Images

Bavuma (29) was beskikbaar vir die tweede toets teen Engeland, maar is nie gekies nie en sal straks ook nie van Donderdag af in die derde kragmeting in Port Elizabeth speel nie.

Nkwe deel die siening van sy opvolger as Lions-afrigter, Wandile Gwavu, wat glo die geluk was bloot nie aan Bavuma se kant in ’n paar toetsbeurte wat hy gespeel het nie.

“Mense vergeet ook dat hy soms in moeilike situasies ingekom het en die span dan in beter posisies gekry het,” het Nkwe Dinsdag in ’n Port Elizabeth so bedompig soos Durban op steroïede, gesê.

“As die geluk aan sy kant was, het hy ’n paar honderdtalle meer gehad. Maar hy het dit agter hom geplaas en kyk nou na die toekoms.”

Nkwe het onlangs met Bavuma gepraat, wat teruggestuur is na die Lions. Daar het die kolwer, wat ’n gemiddeld van 31.24 ná 39 toetse het, verlede week slegs nege lopies in die Lions se meerdagwedstryd teen die Knights geslaan.

“Hy wil in hierdie (internasionale) omgewing wees.

“Hopelik vertoon hy in die toekoms goed genoeg sodat hy die span kan lei, want hy is ’n sterk leier. Hy het die vermoë om ’n groot groep mense tot groot hoogtes aan te voer. Ek sien hom as ’n toekomstige kaptein.”

Hy sê die Protea-span sal in die nabye toekoms die demografie van die land weerspieël.

“Op die oomblik sal daar natuurlik vrae daaroor (transformasie) wees, maar al wat ek vra, is dat almal meer geduldig is. Ons is besig om sekere dinge in plek te kry vir die toekoms.”

Die Black African Cricket Clubs (BACC), geaffilieer met die Gauteng Lions, het aan die einde van 2019 ’n vergadering gehou en gesê Graeme Smith (Krieket Suid-Afrika se tussentydse direkteur van krieket) en die nuwe KSA-leierskap verstaan nie transformasie nie. Nkwe verskil van dié siening.

“Ek dink beslis hulle verstaan dit wel. In die nabye toekoms sal daar veranderinge wees. Ons moet ook na spelers se geestelike toestand kyk.

“Ons werk hard agter die skerms om seker te maak spelers kom deur die stelsel, sodat ons ’n verteenwoordigende span kan hê, ’n ware reënboognasiespan.”

Op die oomblik sal daar natuurlik vrae daaroor (transformasie) wees, maar al wat ek vra, is dat almal meer geduldig is.
Enoch Nkwe

Nkwe het persoonlik met Smith, die direkteur van krieket, hieroor gepraat.

“Mense sien dit dalk nie, maar hy gee regtig om. Hy sit stelsels in plek om te verseker transformasie gebeur.”

Nkwe is self gesien as baken van hoop vir swart krieket. Hy het in die 2018-’19-seisoen geskitter in sy eerste jaar as Lions-afrigter en drie titels gewen. Hierna is hy op die ouderdom van 36 die Proteas se waarnemende afrigter vir die rampspoedige toer na Indië gemaak. Tog is hy nie spyt oor daardie ervaring nie.

Selfs al is hy in Desember deur Mark Boucher vervang toe Thabang Moroe tydelik as uitvoerende hoof geskors is en deur Jacques Faul vervang is.

“Ek gaan nie jok nie, dit was ’n uitdaging toe alles ontvou het. Dit was nie ’n maklike besluit om hierdie pos (as hulpafrigter) te aanvaar nie. Maar Jacques Faul, Boucher en Graeme Smith was baie oopkop en realisties toe ons vergader het. Ek moes my ego opsy skuif.

“Ek glo ek is volwasse genoeg om die situasie te hanteer. Teen die tyd wat ons weer saamgetrek het, was ek opgewonde om ’n verskil te maak in ’n ander rol.

“Boucher was baie ondersteunend. Hy het vir my ’n geleentheid gegee om ’n verskil te maak. Ons vorm ’n vennootskap. Die omgewing is baie gesond.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.