Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Temba praat reguit oor transformasie

Temba Bavuma het geen klagtes gehad toe hy uit die Protea-toetsspan gepos is nie. Maar daar is iets anders waarmee hy ’n “ernstige probleem” het.

Temba Bavuma onderweg na sy telling van 98 in die eerste eendagwedstryd teen Engeland. Foto: Getty Images

“Dit gebeur met alle spelers. Alle spelers word gepos,” het dié buksie Dinsdagaand op Nuweland gesê nadat hy die Proteas met ’n spogbeurt van 98 lopies (103 balle) gehelp het om die eerste eendagwedstryd teen Engeland met sewe paaltjies te wen.

“Die ongemaklikheid vir my is wanneer jy in gesprekke oor transformasie ingegooi word. Ja, ek is swart. Dit is my velkleur. Maar ek speel krieket omdat ek lief is vir die spel,” sê Bavuma.

“Ek wil graag dink die rede waarom ek in die span is, is omdat ek goeie vertonings vir my franchisespan lewer, en vir die nasionale span wanneer ek die geleentheid kry.

“Dis ongemaklik om myself rondom al daardie praatjies te navigeer.”

Bavuma het homself in die middel van ’n rassestorm bevind nadat hy uit die toetsspan gelaat is vir die tweede en derde toets teen Engeland. Dit het gevolg op ’n tydperk waarin hy met die kolf gesukkel het: In 2019 was sy toetsgemiddeld slegs 19.84.

Selfs Bavuma verstaan waarom hy teruggestuur is om sy peil by die Lions te herwin. Veral swart waarnemers was egter woedend oor Bavuma se weglating. Sy statistieke is met dié van Faf du Plessis (die Protea-toetskaptein) s’n vergelyk en Bavuma se ondersteuners het gekla dat hy nie oor dieselfde kam geskeer word as wit spelers soos Du Plessis nie.

Bavuma is die eerste etniese swart spesialiskolwer om toetskrieket vir Suid-Afrika te speel. Hy is dus ’n held vir derduisende jong swart kolwers.

Wat my pla, is om deur die oë van transformasie gesien te word en wanneer jy goed vaar, word daar nie oor transformasie gepraat nie, maar wanneer jy vrot speel, is transformasie boaan die agenda.

“Daardie element is inspirerend, wanneer jy ander etniese swart kolwers het wat ook die kuns van kolfwerk wil vervolmaak. Dit is iets wat ek probeer aangryp,” sê Bavuma.

“Wat my pla, is om deur die oë van transformasie gesien te word en wanneer jy goed vaar, word daar nie oor transformasie gepraat nie, maar wanneer jy vrot speel, is transformasie boaan die agenda. Ek het ’n ernstige probleem daarmee. Jy moet die soet saam met die suur neem.”

Dit pla Bavuma dus dat die kwota-etiket links en regs aan swart en bruin en Indiër spelers gekoppel word die oomblik wanneer hulle swak speel. Dit is ook een rede waarom Bavuma se ondersteuners so kwaad gereageer het toe hy gepos is – hulle het gevoel Bavuma word onregverdig as ’n “kwotaspeler” gesien.

“As transformasie swak is wanneer swart spelers sukkel, dan moet ons ook erkenning gee vir wat transformasie gedoen het wanneer swart spelers goed vaar.”

Die eendagspan wat Dinsdag teen Engeland gespeel het, het Krieket Suid-Afrika (KSA) se transformasiestandaarde oortref. Die Proteas moet gemiddeld oor ’n seisoen ses swart spelers, waarvan twee etnies swart, in hul elftalle hê.

Daar was Dinsdagaand vier etniese swart spelers op die veld, saam met twee bruin spelers en ’n speler van Indiese herkoms.

Maar al hierdie syfers maak nie vir Bavuma saak nie. Hy wil net krieket speel, sê hy. Hy wil eenvoudig ’n bydrae vir sy span lewer.

Dít het hy Dinsdagaand gedoen.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Transformasie  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Temba Bavuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.