SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Krieket
Titans bo ná driekuns, Knights wen
Tshepo Moreki. Foto: Gallo Images

Die Titans het ná ’n driekuns deur Tshepo Moreki ’n merkwaardige meerdagsege met 129 lopies oor die Dolphins Donderdag in Centurion behaal.

Die Durbaniete is die taak gestel om 291 lopies in 72 beurte aan te teken vir ’n oorwinning, nadat die Titans hul tweede beurt op 234/7 gesluit het kort voor etenstyd op die laaste dag.

Die besoekers het aanvanklik flink gekolf, maar hulle het algaande in hul dop gekruip en is uiteindelik vir 161 uitgehaal in 60.3 beurte. Daar was nog net 11.3 beurte oor toe die laaste paaltjie geval het.

Moreki (4/32) se driekuns het die Titans tot op die randjie van die sege gebring. Hy het van die sewende tot die negende paaltjies met agtereenvolgende aflewerings geneem. Hy is goed bygestaan deur die draaier Neil Brand (2/20), wat ook ’n uitstekende wedstryd beleef het met kolfbeurte van 106 en 77.

Jason Oakes (55), wat vir Grant Roelofsen halfpad deur die wedstryd vervang het nadat hy harsingskudding opgedoen het, was die steunpilaar van die Dolphins in hul tweede beurt, maar hy het nie juis enige ondersteuning gehad nie.

Dayyaan Galiem (36*) en 2/26 het ook sy veelsydigheid vir die Titans getoon op die laaste dag van hierdie spesiale sege. Selfs die weer – wat soms baie dreigend was – het saamgespeel om die Titans te laat koning kraai.

Gerald Coetzee het uitgeblink met 4/53 in die Warriors se tweede kolfbeurt in tuisspan se groot sege met 255 lopies oor die besoekers in Kimberley. Foto: Gallo Images

*Johann de Jager berig die Knights se 19-jarige Gerald Coetzee het uitgeblink met 4/53 in die Warriors se tweede kolfbeurt in tuisspan se groot sege met 255 lopies oor die besoekers in Kimberley.

Coetzee is ’n jong lat wat die tonge tot dusver vir al die regte redes laat klap. Die legendariese Allan Donald voorspel reeds groot dinge vir hom.

Die Warriors het die laaste dag van hul wedstryd teen die Knights gister diep in die knyp begin. Hulle was op 64/5 bitter ver van hul wenteiken van 436.

Inderdaad was die bult te steil vir hulle. Die wedstryd was voor middagete reeds iets van die verlede, met die Warriors wat vir net 180 in hul tweede beurt uitgeknikker is.

Dat hulle by daardie telling kon uitkom was grootliks te danke aan die nr. 10-kolwer Glenton Stuurman, wat ’n warrelwind-beurt van 45* gespeel het.

Die ster van die wedstryd was egter die jong Coetzee, wat die kaptein van die SA Skolespan is en sy eersterangse debuut in dié wedstryd gemaak het.

Donald, die Knights se boulkonsultant, was veral opgewonde oor die vaart en aggressie waarmee die jong aanvangsbouler geboul het.

Donald, die Knights se boulkonsultant, was veral opgewonde oor die vaart en aggressie waarmee die jong aanvangsbouler geboul het.

Hy het die Warriors vroeg in hul tweede beurt onder druk geplaas deur in sy eerste twee boulbeurte van albei aanvangskolwers ontslae te raak. Coetzee het op die laaste dag ook vir Onke Nyaku (16) en Jade de Klerk (4) uitgeboul om die Warriors op 119/9 te laat.

Die draaier Shaun von Berg, wat hom van die Titans af by Knights aangesluit het, het soos Coetzee altesaam ses paaltjies in die wedstryd laat kantel. Hy het ook ’n onoorwonne 61 in die tuisspan se tweede beurt aangeteken en is as Speler van die Wedstryd in sy Knights-buiging vereer.

Puntestand:

1. Knights 23.98; 2. Titans 23.56; 3. Lions 22.03; 4. Dolphins 6.88; 5. Warriors 5.92; 6. Cape Cobras 4.

Volgende week se bepalings (wedstryde begin Maandag): Titans t. Cape Cobras (Benoni), Knights t. Dolphins (Bloemfontein), Warriors t. Lions (Oos-Londen).


Meer oor:  Gerald Coetzee  |  Knights  |  Dolphins  |  Titans  |  Meerdagreeks  |  Krieket  |  Warriors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.