Tony de Zorzi het met die naweek se vyfde honderdtal in die eendagreeks die Titans tot ’n maklike bonuspuntsege met nege paaltjies oor die Knights Sondag in Centurion gekolf.

Tony de Zorzi. Foto: Gallo Images
De Zorzi (115*, 124b) en Henry Davids (84) het die Knights met 179 lopies binne 26.4 beurte van hul kolfbeurt geslag.
Die Titans het met 268/1 in net 38.4 beurte geantwoord op die 262/5 wat die Knights gekry het.
De Zorzi het met die 113de bal na hom sy derde kitshonderdtal behaal en voortgegaan om sy vorige hoogste van 103 teen die einste Knights te verbeter.
Heino Kuhn (52*, 37b) was saam met De Zorzi voor die paaltjies toe hy die Speler van die Wedstryd-toekenning met ’n ses beklink het.
Kolftoestande was dalk makker as in die oggendskof, maar daar sal dalk besin moet word oor die Knights se boulaanval, met die uitsondering van die ervare Ryan McLaren.
Vroeër het Keegan Petersen, die voorste lopiemaker van die meerdagreeks, die eendagreeks met sy eerste eendaghonderdtal vir die Knights voortgesit.
Die buksie moes die kolfbeurt anker en het op 88/5 uiteindelik bystand van McLaren gehad.
Petersen (107*, 139b) en McLaren (80*, 83b) het met ’n onoorwonne rekordvennootskap van 174 lopies om die sesde paaltjie vorendag gekom.

Keegan Petersen vier sy derde honderdtal in eendagkrieket wat sy eerste vir die Knights was. Foto: Gallo Images
Die Protea-voorslagbouler Lungi Ngidi (2/35) het in sy terugkeer na 13 weke die paaltjies van albei aanvangskolwers gekry nadat die Knights ingestuur is om te kolf.
Grant Mokoena (1) en Andries Gous (34) sal hulself egter skop omdat hulle na balle gespeel het wat hulle kon gelos het. Gous was op sy stukke en het in een boulbeurt van Chris Morris vier agtereenvolgende viere gemoker.
Die paaltjies van twee staatmaker-kolwers Pite van Biljon (6) en Rudi Second (0) in dieselfde boulbeurt van Junior Dala (2/54) was ’n geweldige knou vir die besoekers.
Toe die nuweling Jacques Snyman (16) deur Tabraiz Shamzi been voor paaltjies uitgegee is was die Knights aan die steier.
McLaren, wat Saterdag 36 geword het, kon enduit saam met Petersen vasskop om aansien aan die totaal te gee nadat dit gelyk het of die besoekers goedkoop uitgehaal gaan word.
* Die Dolphins het met Vaughn van Jaarsveld onder meer aan die spits die Lions met 19 lopies Saterdag in Pietermaritzburg in ’n lopiefees geklop en gewys waarom hulle die gesamentlike kampioen is.
Die span besaai met wedstrydwenners het vroeg ’n waarskuwing aan die res gerig.
Van Jaarsveld (124, 102b), Dane Vilas (81, 94b) en David Miller (74, 55b) het die tuisspan gehelp om ’n stewige 342/6 op te stapel.
Die Lions se Reeza Hendricks (130, 11b) het die Lions gehelp om 323/9 te kry.
* Die aanvangskolwer Gihan Cloete (111, 127b) het die Warriors (277/7) Vrydagaand in Paarl gehelp om die Cape Cobras (267/6) naelskraap met die voorlaaste bal te klop.