Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Toetskrieket eis sy tol by Dale Steyn

As Dale Steyn vroeër halt sou geroep het in sy toetsloopbaan, sou hy straks glad nie die afgelope paar jaar só met beserings gesukkel het nie.

Dale Steyn in Perth in 2016 nadat hy ’n beentjie in sy skouer gebreek het. Die besering het hom meer as ’n jaar buite aksie gehou. Foto: Getty Images

Die blitsbouler is die voorste paaltjievraat in die Mzansi-Superliga en is uitsluitlik gefokus op witbalkrieket nadat hy in April verlede jaar sy uittrede uit toetskrieket aangekondig het.

“Ek voel goed en die feit dat ek myself moet voorberei om 24 balle in ’n dag af te stuur pleks van 24 boulbeurte, maak ’n reuse verskil,” het Steyn vandeesweek by Nuweland gesê.

“As ek terugdink aan die laaste paar jaar waar ek twee ernstige beserings opgedoen het, was die werklas van toetskrieket beslis een van die redes,” het hy gesê.

Steyn het in November 2016 in die eerste toets teen Australië sy skouer gebreek en dit het hom meer as ’n jaar lank buite aksie gehou.

Toe hy in die Nuwejaarstoets in 2018 teen Indië sy terugkeer gemaak het op die einste Nuweland, het hy skeef getrap in die voetmerke op die kolfblad en dié voetbesering het hom amper nog 6 maande buite aksie gehou.

“Om skeef te trap, is ’n normale besering vir ’n bouler. Maar om jou skouer te breek veral aan jou boularm, het dit nie maklik gemaak om te herstel nie,” het die blits gesê.

“Ek dink net ek sou minder langtermyn-beserings opgedoen het as ek vroeër my toetsloopbaan beëindig het.”

Dit is om die rede dat Steyn net sy kop geskud het oor die moontlikheid dat hy Faf du Plessis-hulle kon uithelp in die komende toetsreeks teen Engeland.

Die fokus op toetskrieket het ook tot verdere suksesse gelei.

Ek voel oraait. Boulers het maar altyd die een of ander skeet, maar ek kan nie kla nie.

Steyn was jare lank die voorste toetsbouler op die Internasionale Krieketraad se ranglys vir toetsboulers en hy is die Suid-Afrikaner met die meeste toetsslagoffers (439).

Steyn het vandeesweek gesê hy geniet sy boulwerk by die Blitz en is oorgehaal om die Kaapse span tot die Mzansi-titel te help.

“Ek voel oraait. Boulers het maar altyd die een of ander skeet, maar ek kan nie kla nie.”

Steyn (36) het sedertdien las van ’n seer sy.

Dit was sy fantastiese boulvertonings vir die Blitz wat mense laat wonder het of hy nie sy toetsstewels te vroeg opgehang het nie.

Met 15 paaltjies in 8 T20-wedstryde, is hy die leier van die Blitz-aanval en een van die mees gevaarlike wapens in die reeks.

Hy sê voorts sy aanslag in witbalkrieket het verander.

“Ek het besluit om baie meer aanvallende te boul. Jy kan nie jouself as ’n paaltjievraat beskou as jy nie paaltjies neem nie.”

Dale Steyn is die grootste paaltjievraat in vanjaar se Mzansi-Superliga. Foto: Gallo Images

Steyn sê dat hoewel hy nooit behep met statistieke was nie, is hy heel gelukkig met sy syfers in witbalkrieket.

“My treftempo is goed asook my lopietempo. Maar ek het bloot nie genoeg eendagkrieket gespeel om regtig uit te staan nie.”

Dit is dié nuwe aggressie waarmee Steyn boul, wat hom die selfvertoue gegee het om sy stadiger aflewering meer gereeld te boul.

Dit is opmerklik in vanjaar se toernooi dat hy dié bal baie meer gereeld inspan en dat dit al die kolwers pla.

Nou is my ingesteldheid om paaltjies te neem. Ek waag nou meer.

Die bal, soos die legendariese stadiger aflewering van die voormalige Wes-Indiese en Vrystaatse bouler, Franklyn Stephenson, het die vermoë om op die laaste oomblik af grond te duik.

Dit lyk vir die kolwer of die bal op pad is om sy bolyf as ’n volbal te tref en dit wip dan op die laaste oomblik en tref die kolf teen slegs 100 km per uur.

“Ek het nog altyd die vermoë gehad om dié bal te boul, maar ek omdat ek my lopietempo wou beskerm, wou ek nie waag om dit te boul nie.

“Nou is my ingesteldheid om paaltjies te neem. Ek waag nou meer.”

En die toekoms? Steyn wou nie te ver vooruit kyk nie. Selfs nie na die einde van die seisoen se Wêreld-T20-reeks in Australië nie.

“Ek hoop om die einde van die Mzansi-liga te maak.”

Meer oor:  Mslt20  |  Dale Steyn  |  Mzansi-Superliga  |  Krieket  |  Msl  |  Cape Town Blitz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.