Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Tuinkrieket straks Lizelle se voorland

Ná elke kolfbeurt waarin die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspeler Lizelle Lee die wêreld aan die brand kolf, is daar ’n oorvloed emoji’s in haar boodskappe wanneer sy haar selfoon aanskakel.

Dié 27-jarige boorling van Ermelo het ’n maand gelede nuusopskrifte gehaal toe sy slegs die tweede Suid-Afrikaanse vrou geword het wat ’n 100-tal in ’n internasionale T20-wedstryd geslaan het.

Die Proteas se Lizelle Lee in aksie teen Australië tydens die halfeindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vroeg in Maart. Foto: Getty Images

Lee was daardie dag in Canberra, Australië, in die T20-Wêreldbeker-toernooi in ’n verwoestende bui toe sy 101 lopies van slegs 60 balle teen Thailand aangeteken het. In die proses het sy 16 viere en drie sesse gemoker.

“Ek sit voor elke toer en bespreek met die afrigters die 50- en 100-talle wat ek hoop om aan te teken. Maar ek speel krieket vir die liefde van die spel.

“Ek doen dit vir my familie en geliefdes wat altyd daar is om my te ondersteun. Elke keer as ek my foon aansit ná ’n 50-tal, is daar soveel emoji’s van my ma (Tanje) af,” sê Lee.

Sy is lankal reeds ’n staatmaker vir die Proteas en het in Australiese Big Bash ook al ’n reputasie verwerf as iemand wat weet hoe om haar kolf die praatwerk te laat doen.

Maar dit is in Ermelo, in haar ouers se tuin, waar sy as jong kind aan krieket blootgestel is.

“Ek het altyd saam met my pa (Kobus) en boetie (Pieter) krieket in die agtertuin gespeel. My boetie was baie goed en my pa het vir Polisie gespeel. Daar het ek lief geraak vir die spel,” sê Lee.

Diegene wat al aanskou het hoe sy ’n boulaanval aan flarde kan moker, sou ooreenkomste gesien het met ’n voormalige Protea, ene Lance (Zulu) Klusener, wat so 20 jaar gelede die krieketwêreld met sy kanonkolf vermaak het. En boulers geleer het om skietgebedjies op te sê.

“Ek was altyd ’n aanhanger van die manier waarop Lance Klusener gespeel het. Nie net die manier waarop hy gekolf het nie, maar ook hoe hy die bal laat wegbreek het as hy geboul het,” sê Lee.

Lizelle Lee het as kind tuinkrieket in Ermelo gespeel. Foto: Getty Images

Sy het aanvanklik ná skool onderwys aan die Puk gaan studeer en het in 2013 haar debuut vir die Proteas in eendag- en T20-krieket gemaak.

In 2014, in haar laaste semester op universiteit, het sy die geleentheid gekry om toetskrieket in Indië te speel. Iets wat ’n seldsame geleentheid vir vrouespelers, veral Suid-Afrikaners, is.

Dit het beteken dat sy nie haar studies voltooi het nie. Tog is sy dankbaar vir hoe haar lewe is en sê sy sou dit nie op ’n ander manier wou gehad het nie.

Lee en haar verloofde, Tanja Cronjé, wat in Potchefstroom woon, het besluit om vir die duur van die inperking weens die Covid-19-pandemie na haar ouerhuis te gaan.

“Daar moet altyd maar geoefen word, darem het my ma-hulle ’n groterige erf waar ek kan oefen.”

Jy kan waarskynlik ’n los R10 daarop verwed dat daar nou in Mpumalanga, net soos jare gelede, weer tuinkrieket by die Lee-huis gespeel sal word. Sy lag juis op die vraag of haar pa en broer nog bereid is om saam met haar te speel.

Meer oor:  Lizelle Lee  |  Koronavirus  |  Krieket  |  Vrouekrieket  |  Covid-19  |  Protea-Vrouekrieketspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.