Herschelle Gibbs se Colombo Kings hoef hulle nie Donderdag in Mambantota – in die eerste wedstryd van die Sri Lanka Premierliga (LPL) – oor Dale Steyn te bekommer nie.

Die veteraan-snelbouler Dale Steyn gaan sy slag in Sri Lanka se T20-liga wys. Foto: Gallo Images
Dié Protea-snelbouler is op die nippertjie as ’n plaasvervanger deur die Kandy Tuskers bekom. Hy moet met sy aankoms egter eers die kwarantyn-protokol nakom en sal straks die eerste week van die Tuskers se veldtog misloop.
Gibbs, ’n gewese Protea-kolwer, het by navraag bevestig Steyn was Woensdag nog nie daar nie, en dat hy met sy aankoms in kwarantyn gaan wees en eers Covid-19-toetse moet slaag.
Gibbs se Kings word aangevoer deur Angelo Mathews en hy het een van die supersterre van T20-krieket – Andre Russell van Jamaika – in sy groep.
Kusal Perera, groot held met die kolf in Sri Lanka se geskiedkundige toetsreekssege in 2019 oor die Proteas in Suid-Afrika, is kaptein van die Tuskers. – Sportredaksie