Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Uitsaaier trek wéér neus op vir KSA se reeks

Suid-Afrika se krieketbase het die Mzansi-superliga (MSL) geskrap omdat SuperSport sy neus vir die uitsaairegte opgetrek het.

Dit is die tweede keer dat Suid-Afrika se T20-toernooi afgelas word omdat ’n TV-uitsaaier nie aan boord wou kom nie. SuperSport het ook in 2017 kop uitgetrek as TV-uitsaaier van die T20 Global-toernooi toe hy en Krieket Suid-Afrika (KSA) nie tot ’n vergelyk kon kom nie.

Henry Davids lê die langsteel in vir die Paarl Rocks in verlede jaar se eindstryd van die Mzansi-superliga teen die Tshwane Spartans. Foto: Gallo Images

KSA het reeds ’n hoofborg vir die toernooi bekom.

Met die inkomste uit die borgskap en SuperSport het KSA gehoop om vanjaar gelyk te breek met die aanbied van die toernooi, ná verliese in die verlede.

“Met die titelborg aan boord én SuperSport se vooruitskattings, sou die toernooi gelyk gebreek het in die derde jaar. Dis twee jaar vroeër as Thabang Moroe (voormalige uitvoerende hoof van KSA) se vooruitskatting,” het ’n bron aan Rapport gesê.

Dít nadat daar groot verliese met die vorige twee weergawes van die toernooi gely is.

Krieket se nasionale beheerliggaam moet nog die aankondiging doen oor die jongste verwikkeling, maar die franchises is reeds in kennis gestel dat die toernooi vir vanjaar van die baan is.

Die MSL, wat ook van ses tot agt spanne vergroot sou word, is vir die laaste twee seisoene sonder ’n hoofborg aangebied, met die SABC wat in die eerste jaar die uitsaairegte gratis gekry het. ’n Nominale fooi is van SABC vir die tweede seisoen se TV-regte gekry.

Miljoene kykers is egter deur die SABC bereik, maar sonder ’n inkomste-stroom uit die TV-regte, moes KSA weer elders soek vir ’n uitsaaier.

Rapport verneem die Covid-19-pandemie het ’n groot rol in SuperSport se besluit gespeel om hom nie as uitsaaier tot die toernooi te verbind nie. Met die onsekerheid oor wanneer internasionale reise na en van Suid-Afrika weer toegelaat gaan word, kan dit ’n invloed hê op topspelers van oorsee se deelname aan die toernooi.

Die moontlikheid bestaan dat geen internasionale spelers betrek sal word nie, wat dit net ’n plaaslike reeks sal maak met minder voordele vir die uitsaaier, word gesê.

Die onsekerheid of toeskouers vanjaar al by sportgeleenthede toegelaat sal word, het glo ook ’n groot rol gespeel.

Vir die agt franchises is die uitstel ook ’n groot terugslag.

Die Paarl Rocks sal straks nie hul MSL-kroon vanjaar verdedig nie, terwyl die twee nuwe spanne van Bloemfontein en Oos-Londen ook nog ’n jaar sal moet wag om hul verskyning in die reeks te maak.

Meer oor:  Mzansi-Superliga  |  Krieket  |  T20  |  Supersport  |  Borg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.