Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rassie wil nie WB-kar voor perde inspan

Al sal sy insluiting in die Suid-Afrikaanse eendaggroep ’n groot glimlag op die 29-jarige oud-Menloparker Rassie van der Dussen se gesig plaas, besef hy egter ook dat hy hom nou eintlik tussen twee vure bevind.

Rassie van der Dussen lê die langsteel in in die onlangse Mzansi-superliga. Hy was die voorste lopiemaker in dié T20-liga, wat sy span, die Jozi Stars, ook gewen het. Foto: Gallo Images

Met die Wêreldbeker-toernooi in Engeland slegs enkele maande weg, sal dit vir hierdie top-orde kolwer van die Lions voel asof hy elke kans wat sy rigting toe kom, optimaal sal moet benut as hy een van die 15 uitverkorenes wil wees wat op daardie vliegtuig Engeland toe gaan klim.

Debuut of te nie, Van der Dussen sal wanneer hy sy speelkans in een van die eerste twee eendagstryde teen Pakistan kry, sy kolf dadelik die praatwerk moet laat doen om die keurders te oorreed hy moet deel van die Wêreldbeker-groep wees.

Tog wil hy nie daardie onnodige druk op homself plaas deur die bobbejaan agter die bult te wil gaan haal nie.

Van der Dussen het reeds in sy T20-debuut vir die Proteas verlede jaar teen Zimbabwe gewys hy is nie oorweldig deur die groter verhoog van internasionale krieket nie.

Hy het in daardie kragmeting ’n 50-tal geslaan en sou hy dieselfde doen in sy eendag-debuut op internasionale vlak, kan hy veel nader aan die Wêreldbeker-groep wees as wat hy dalk self dink.

Van der Dussen is ’n heel gemaklike karakter wat sê hy oorkompliseer dinge nie vir homself nie. Sy benadering is wat sal wees, sal wees.

Nadat hy die eerste weergawe van die Mzansi-superliga (MSL) se T20-liga afgesluit het as die voorste kolwer, het veel meer as slegs die geoefende krieketkykers wat al lankal weet watter wonderlike talent hy is, van hom kennis geneem.

Gebruik ek daardie kans, weet jy nooit wat kan gebeur nie.
Rassie van der Dussen

Al wil hy nie onnodige druk op homself plaas nie, sal dit vir hom baie voordele inhou as hy sy internasionale eendaagse debuut met ’n knal kan begin.

Dít sal immers die keurders diep laat dink oor hoe die lys van top-orde kolwers vir die WB-toernooi moet lyk.

Sou dit aanvaar word dat die 15-tal wat Engeland toe gaan uit sewe top-orde kolwers sal bestaan wat posisies een tot vyf sal vul, is daar strawwe mededinging.

Die topvyf, gegewe dat almal fiks is, hoort Hashim Amla, Quinton de Kock, Faf du Plessis, JP Duminy en David Miller te wees.

Dit kan wel wees dat nog een top-orde kolwer ingedruk word, wat dalk op nommer drie kan instap, met Du Plessis wat dan afskuif na vier en Duminy en Miller ná hom.

Reeza Hendricks en Aiden Markram word gesien as die twee voorste kolwers vir daardie plek, maar Van der Dussen se aanspraak moet nie gering geskat word nie. Sy voordeel is dat hy vloeibaar in die kolforde kan wees van aanvangskolwer tot nommer ses.

“Vir eers is ek maar net te bly om deel van die eendag-opset te wees en sou ek kans kry om te speel, sal ek net my bes doen en nie met té veel gedagtes in my kop uitstap om te kolf nie. Gebruik ek daardie kans, weet jy nooit wat kan gebeur nie,” sê Van der Dussen.

“Ek kan maar net my bes probeer en die res sal uit my hande wees.”

Meer oor:  Krieket  |  Rassie Van Der Dussen  |  Proteas  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.