Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Van haaie in SA na helikopters in Karatsji

Daar is een ding waarvoor Quinton de Kock minstens net so lief is as vir krieket, indien nie meer nie.

Hengel.

Daarom het hy die bietjie tyd wat hy die laaste paar maande by sy huis in Knysna kon bestee, langs die viswaters deurgebring. Die Protea-kaptein het verlede week ’n fris haai uitgetrek net voordat die span Vrydag met ’n huurvlug vir hul toetsreeks na Pakistan gereis het.

“Die haaie is oral op die oomblik, daai raggies. Dis ragged-tooth sharks,” het De Kock Maandag uit Karatsji gesê. In Afrikaans: Skeurtandhaai.

“Hulle is nou veral naby die kuslyn bedrywig, waar die water warmer is in die somermaande. Dit is eintlik nogal maklik om hulle te vang.

“Daardie een wat ek gevang het, was boonop mediumgrootte. Hulle kan 50, 60 kilogram swaarder word. Ek het foto’s gesien van ’n paar grotes wat uit die strandmeer getrek is sedert ek weg is.”

Krieketspelers se “nuwe normaal” het hulle erg uit hul gemaksones geruk en De Kock kon onlangs min tyd langs die viswaters deurbring.

Covid-19 en bioborrels het só ’n groot invloed op spelers, dat hulle in dié tydperk meer van sielkundiges gebruik gemaak het as ooit tevore, het Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging, die naweek aan Rapport gesê.

Dis nie maklik om die heeltyd só te moet leef nie, sê De Kock.

George Linde, Lutho Sipamla, Dwaine Pretorius, Anrich Nortjé, Keshav Maharaj, Quinton de Kock, Rassie van der Dussen en Tabraiz Shamsi warm Maandag in Karatsjii voor ’n oefening op. Foto: Twitter/CricMindz

“Dit gaan party spelers later op ’n emosionele en sielkundige vlak begin vang. Dis taai, want jy probeer terselfdertyd om jouself sielkundig stabiel te hou én om goeie vertonings vir jou land te lewer,” sê De Kock.

“Daar is net soveel wat jy kan verduur, maar jy verduur dit, want mense in Suid-Afrika wil ’n bietjie krieket kyk, hulle wil sien dat jy goed vertoon.

“Dit hou jou gemotiveerd, maar dis moeilik. In die laaste vyf of ses maande was ek nie meer as drie weke by die huis nie.”

In Pakistan is daar gevare wat selfs groter as die koronavirus (of skeurtandhaaie) is. Die rede waarom Suid-Afrika in 2007 laas na Pakistan getoer het, en waarom Pakistan sedert 2009 hul tuistoetse in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel het, is omdat politieke onbestendigheid krieketspelers se lewe begin bedreig het.

Twee van die soldate wat die Proteas Saterdag na hul hotel begelei het. Foto: Twitter/Tabraiz Shamsi

Vyf Sri Lankaanse spelers het in 2009 skrapnelbeserings opgedoen nadat aanvallers met masjiengewere op hul spanbus losgebrand het. Niemand is noodlottig gewond nie, maar dit het internasionale krieket in Pakistan vir tien jaar lank “doodgemaak”.

Die einste Sri Lanka het krieket in 2019 teruggevat Pakistan toe. Sedertdien is Suid-Afrika die eerste groot land wat weer soontoe reis, nadat Zimbabwe en Bangladesj ook verlede jaar daar gespeel het. Engeland toer ook later vanjaar daarheen.

Die opwinding oor die Proteas se koms, is tasbaar. Talle Pakistanse joernaliste het Maandag ingeskakel by De Kock se Zoom-nuuskonferensie en die meeste van hulle het die Suid-Afrikaanse kaptein welkom geheet in hul land.

Verskeie joernaliste het verwys na hoe opgewonde die Pakistanse publiek is om die Proteas daar te hê, en hoe sleg dit vir hulle is dat die wedstryde in leë stadions gespeel word.

Een joernalis wou weet wat dink De Kock van die land, maar weens die kwarantynmaatreëls is die Proteas tot hul hotelkamers en die oefenveld beperk.

De Kock het wel bevestig dat hul vrese oor veiligheid gou besweer is.

“Ons veiligheid was moontlik ons grootste bekommernis, maar toe ons geland het, het ons die vlak van sekuriteit gesien wat vir ons gereël is en almal het kalmer geraak,” sê hy.

“Dit het selfs nog minder van ’n bekommernis geraak die laaste paar dae en ons kon op krieket begin fokus. Op die vlug het die ouens gepraat van wat van dít en wat van dát, maar toe ons land . . . sjoe, dis iets om te aanskou.”

Die draaibalbouler Tabraiz Shamsi het Saterdag ’n foto en video op Twitter gedeel van die Proteas se aankoms in Pakistan. Die spanbus is met ’n weermagkonvooi van bakkies en selfs ’n helikopter na hul hotel begelei. Die soldate agterop die bakkies, wat met aanvalsgewere gewapen was, lyk of hulle selfs vir Bakkies Botha sal laat skrik.

“Pakistan het ongelooflike maatreëls ingestel. Ons hoef glad nie oor veiligheid bekommerd te wees nie.”

• Die eerste van twee toetse begin op 26 Januarie in Karatsji.


Meer oor:  Quinton De Kock  |  Tabraiz Shamsi  |  Karatsji  |  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.