Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jonathan Vandiar word ’n Knight

Die Knights-krieketspan gaan Jonathan Vandiar se vierde franchise-tuiste word.

Dié 29-jarige kolwer van die Titans was een van die verrassings toe die Knights se groep Donderdag bevestig is. Hy het voorheen ook vir die Dolphins en Lions gespeel.

Jonathan Vandiar in aksie vir die Titanss. Foto: Gallo Images

Die Knights-afrigter, Allan Donald, sê die feit dat die ervare Vandiar linkshandig is, maak van hom ’n speler wat hulle ekstra opsies in die kolflys bied.

Vandiar het tien honderdtalle en 30 vyftigtalle in 106 eersterangse wedstryde aangeteken en in 94 eendagwedstryde sewe honderdtalle en 15 vyftigtalle. Hy was ook voorheen in die Indiese Premierliga by die Royal Challengers Bangalore betrokke.

Hy is een van ses nuwe gesigte in die gekontrakteerde groep saam met Matthew Kleinveldt, Ferisco Adams (albei Cape Cobras), Migael Pretorius (Lions), Alfred Mothoa (Titans) en Duan Jansen van die Vrystaat, wat met ’n groentjie-kontrak beloon is.

Duan is die tweelingbroer van Marco, wat sy loopbaan by die Warriors gaan voortsit.

Donald sê intussen hy wil ’n snelbouler-kultuur skep soos destyds by die Proteas en is veral opgewonde om met Pretorius, Adams en die jong Jansen (19) te werk.

Hy het ook nog die dienste van Gerald Coetzee, wie se lof hy lank reeds besing.

“Ek hou Migael (Pretorius) nou al vir twee jaar dop. Hy het nie baie speelkans by die Lions gehad nie, maar hy het hope talent.

“Duan het dalk nie in die stadium so baie vaardighede soos sy tweelingbroer nie, maar hy is ook links soos Marco en het ook tonne talent.

“Die Vrystaat-span het ook ’n paar opwindende boulers en ek beplan om nou saam met Dillon du Preez te werk sodat ons hulle, asook die boulers by Noord-Kaap, almal kan betrek by die nuwe boulkultuur wat ek wil vestig.”

JP Triegaardt, wat aan die einde van die seisoen waargeneem het as die Knights-breier, is die nuwe hulpafrigter. Hy was voorheen, by twee geleenthede, Noord-Kaap se breier, en tussenin Noordelikes se afrigter.

Die Knights het sewe spelers verloor wat ander heenkome gaan soek het of nie weer gekontrakteer is nie.

Hulle is Marco Jansen, Keegan Petersen, Ottniel Baartman, Tshepo Ntuli, Shadley van Schalkwyk, Obus Pienaar en Corné Dry.

Knights-groep vir 2020-’21: Pite van Biljon, Raynard van Tonder, Andries Gous, Matthew Kleinveldt, Jacques Snyman, Shaun von Berg, Pat Kruger, Jonathan Vandiar, Wandile Makwethu, Grant Mokoena, Gerald Coetzee, Migael Pretorius, Ferisco Adams, Mbulelo Budaza, Alfred Mothoa, Duan Jansen.


Meer oor:  Krieket  |  Knights  |  Jonathan Vandiar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.