Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Vergroot reeks net met 12 spanne'

Ashwell Prince het Maandag ’n pleidooi gelewer dat 12 provinsies in die toekoms in ’n plaaslike krieketreeks moet speel.

Die afrigter van die Cape Cobras sê hy dink so ’n besluit sal spelerontwikkeling in die land ’n yslike hupstoot gee.

Die Cobras-afrigter, Ashwell Prince, is ten gunste van ’n groot provinsiale kompetisie. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) het verlede maand aangekondig dat die huidige ses streekspanne steeds volgende seisoen sal bestaan, ofskoon daar veranderinge aan die formaat van plaaslike krieket aangebring gaan word.

“Ek verstaan hoekom daar besluit is om by die ses franchises te hou en die spanne in twee groepe op te deel. Dit is gedoen om finansiële redes. Ek is egter nie ’n ondersteuner (van die nuwe formaat nie),” sê Prince.

“Ek sou dit verkies as KSA net op een formaat vir die volgende tien jaar besluit. Dan kan ’n mens regtig vir die seisoen beplan.”

Dit was egter die provinsiale struktuur waaroor Prince die sterkste gevoel het aangesien die 12 streke wat op die hoogste vlak speel meer geleenthede vir spelers bied as ses streekspanne.

“Kyk na van die jong spelers in die Cobras-groep. Iemand soos (Isma-eel) Gafieldien sal dalk net ’n paar wedstryde vir die Cobras speel. As hy egter vir die Boland gespeel het, sou hy ’n hele seisoen speelkans gekry het. Hy sou baie meer daarby baat gevind het,” sê hy.

“Die spel self is steeds die beste breier. Jong spelers gaan baie vinniger ontwikkel deur te speel as wanneer ’n mal ou soos ek op hulle skreeu by die nette.”

Die voormalige Protea-kolwer stem ook nie saam dat die sogenaamde kleiner streke die standaard van die krieket sal aftrek nie.

Jong spelers gaan baie vinniger ontwikkel deur te speel as wanneer ’n mal ou soos ek op hulle skreeu by die nette.
Ashwell Prince

“Dit werk in Engeland, maar ons hoef nie eers oorsee te gaan soek vir voorbeelde nie. Ons het met 11 provinsiale spanne gespeel voordat die huidige model (aan die begin van die 2003-‘04-seisoen) aanvaar is.”

Volgens Prince was die kleiner unies toe baie mededingend.

“Almal, behalwe Noordwes, het trofeë gewen. Griekwas, Boland, Oostelikes en Grens het sukses behaal,” sê hy.

“En hulle het ook spelers opgelewer. André Nel, Andrew Hall en Zander de Bruyn het deur Oostelikes gekom; Pieter Strydom en Steve Palframan by Grens en ’n hele gros by die Boland: spelers soos Henry Williams, Henry Davids, Charl Langeveldt, Justin Ontong en vele meer.”

Ek glo nie dit gaan te moeilik wees vir elke unie om 15 goeie spelers te hê nie.
Ashwell Prince

Prince glo daar is oorgenoeg spelers in die land vir die “kleiner” unies om mededingend te wees.

“Ek glo nie dit gaan te moeilik wees vir elke unie om 15 goeie spelers te hê nie. Dit sal vir baie goeie krieket sorg.”

Prince het Maandag gepraat op ’n videonuuskonferensie waar hy die Cobras se groep vir volgende seisoen aangekondig het.

Die Cobras gaan op ’n baie jong span moet staatmaak, met ’n groot aantal spelers wat die streek verlaat het.

Dane Piedt (VSA), Vernon Philander, Dane Paterson en David Bedingham (almal na Engeland), Thando Ntini (Titans) en Rory Kleinveldt (uittrede) is maar net sommige van die spelers wat vervang moet word.

Die Cobra-groep: 

Ziyaad Abrahams, Jonathan Bird, Corbin Bosch, Nandre Burger, Tony de Zorzi, Isma-eel Gafieldien, Zubayr Hamza, George Linde, Pieter Malan, Janneman Malan, Imraan Manack, Aviwe Mgijima, Akhona Mnyaka, Tshepo Moreki, Onke Nyaku, Calvin Savage, Jason Smith en Kyle Verreynne.

Meer oor:  Ashwell Prince  |  Krieket  |  Cape Cobras  |  Krieket Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.