Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Vierde toets: Temba in, Rassie op nr. 3

Faf du Plessis sal hoop Temba Bavuma kan die vonk verskaf wat sy Protea-kolflys so drasties in die toetsreeks teen Engeland nodig het.

Du Plessis, Suid-Afrika se kaptein, het Donderdag by die Wanderers bevestig Bavuma sal van Vrydag af in die vierde toets in Zubayr Hamza se plek speel.

“Rassie (van der Dussen) sal opskuif na die nr. 3-posisie,” het Du Plessis bevestig.

Hy het egter nog nie klarigheid gehad oor hoe sy boularsenaal gaan lyk nie.

Du Plessis sit met ’n tameletjie nadat sy beste bouler, Kagiso Rabada, geskors is vir die toets wat Suid-Afrika móét wen om die reeks met 2-2 gelykop te laat eindig.

Temba Bavuma sal op die Wanderers die eerste keer in dié reeks teen Engeland te staan kom, maar het van hul boulers verlede jaar gereeld getrotseer toe hy vir Northamptonshire graafskapkrieket in Engeland gespeel het. Foto: Getty Images

“Die res van die span is nog nie vasgestel nie, want baie sal van die weer afhang.”

Met Rabada uit, kan die linkshandige swaaibouler Beuran Hendricks moontlik sy buiging maak. ’n Ander opsie is om ’n veelsydige speler soos Dwaine Pretorius weer in te span.

“As Beuran gekies word, sal hy die toestande goed ken, want dit is sy tuisveld. Dit is nou die gesprekke wat gevoer word: Voel ons dat die snelboulafdeling versterk moet word, omdat KG nie speel nie? Het ons ’n veelsydige bouler nodig?

“Vir eers gaan dit net oor die weer, want daar word baie reën vir môre (Vrydag) voorspel, maar wie weet?”

Die Proteas moet ook besluit of hulle vir Dane Paterson nog ’n kans in die elftal wil gee. Daar is ’n kans dat hy weggelaat word en dat Hendricks en Pretorius dan albei op hul tuisveld sal speel.

Nog ’n opsie is om die draaier, Keshav Maharaj, weg te laat. Maharaj het skitterend gespeel in die derde toets in Port Elizabeth en ’n vyftal paaltjies gevat én ’n vyftigtal geslaan. Tog het Suid-Afrika slegs in een van sy laaste vyf toetse op die Wanderers met ’n draaier gespeel.

Ons weet ons was swak wat ons wedstrydplanne betref. Ons het nie genoeg eerstebeurt-lopies aangeteken nie en dit is ’n basiese aspek van toetskrieket.
Faf du Plessis

Die boulers kan egter niks doen as die kolwers nie vir ’n verandering naby die 300-, 350-kerf kan uitkom nie.

“Diep in ’n reeks sal bykomende tyd in die nette nie ’n verskil maak nie. Dit gaan oor hoe taai ons geestelik is,” sê Du Plessis.

“Ons weet ons was swak wat ons wedstrydplanne betref. Ons het nie genoeg eerstebeurt-lopies aangeteken nie en dit is ’n basiese aspek van toetskrieket.”

Du Plessis wou nie vrae oor enigiets anders as die vierde toets beantwoord nie. Daar heers onsekerheid oor sy toekoms, veral in die toets- en eendagformaat.

Hy het reeds te kenne gegee dat hy in die T20-Wêreldtoernooi wil speel, wat in Oktober en November in Australië plaasvind.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, staan die media te woord voor die laaste toets teen Engeland. Foto: Simon Sonnekus

Sy fokus is egter volkome op die vierde toets en die Proteas gaan hom op sy beste nodig hê.

Engeland oorweeg dit om ’n blitsduo los te laat op ’n blad wat gewoonlik vaart en wip bied, maar ook goed behoort te wees vir kolfwerk.

Mark Wood het met verstommende vaart en aggressie in Port Elizabeth geboul en veral vir Hamza met sy wipballe ontsenu.

Die jong blits Jofra Archer is boonop weer fiks en dit klink asof hy en Wood albei ingespan gaan word, met die draaier Dom Bess wat kan uitsit ná sy vyfpaaltjie-oes in Port Elizabeth.

Dít sal een van die vinnigste kombinasies wees wat Engeland tot dusver ingespan het en die Britse media se monde water reeds aan die gedagte aan dié twee in tandem.

Die Proteas sal eenvoudig net ’n teenvoeter moet vind, sodat Vernon Philander sy laaste toets en Du Plessis dalk sy laaste toets op tuisbodem met ’n onwaarskynlike sege kan vier.

  • Begintyd: 10:00 op SS 2 en SABC 3.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.