Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Marizanne Kok gesels met Johan Botha
Johan Botha: Vir die liefde van krieket
Nou leef oud-Protea sy passie uit as breier

Toe Johan Botha se seuntjie in Augustus 2010 gebore is, het hy nie lank geneem om op ’n naam te besluit nie.

Johan Botha in aksie vir die Sydney Sixers, vir wie hy tussen 2015 en 2018 gespeel het.Foto’s: Getty Images

Austin, het hy en Monica hul eersteling genoem. “Ek het my toetsdebuut in Australië gemaak, so dis waar die ‘Aust’ vandaan kom,” verduidelik hy. “En my eendagdebuut was in Indië – dit gee die ‘In’.”

Dat Botha – wat twee maande later by Graeme Smith die kapteinskap van Suid-Afrika se eendagspan sou oorneem nadat hy die jaar vantevore Smith as T20-kaptein opgevolg het – na krieket vir inspirasie gekyk het, behoort nie as ’n verrassing te kom nie. In die twee dekades voor dit – en inderdaad die dekade sedertdien – was krieket immers sy grootste passie.

Botha het verlede maand sy uittrede as speler uit alle vorme van krieket aangekondig, maar omtrent dadelik terug op die krieketwa geklim as afrigter van die Multan Sultans in die Paki­stan-superliga.

Dis deels hoekom hy voor die einde van die Australiese Big Bash-liga, waarin hy die Hobart Hurricanes verteenwoordig het, sy uittrede aangekondig het. Maar, sê die 36-jarige speler, sy lyf het hom ook ’n ruk vroeër begin smeek om halt te roep.

“Ek was nog altyd trots op hoe ek voorberei tussen wedstryde, maar as die voorbereiding vir jou lyf te veel begin raak, moet jy weet dis tyd vir halt roep,” sê Botha, ’n fiksheidsfanatikus wat die Londen-marathon en etlike driekamp-byeenkomste op sy kerfstok het, verlede week.

“Ek het nogal ’n hele ruk gedink oor my uittrede, maar seker so vier of vyf dae voordat ek die aankondiging gemaak het, mooi besef die uurglas loop leeg vir my loopbaan.”

Dis ’n loopbaan, sê Botha, wat nie in sy herinneringe deur ‘Wat as?’ versuur word nie.

Hy was net 23 toe hy die eerste van sy 80 eendagwedstryde vir Suid-Afrika gespeel het, en 25 met sy toets- en T20-buigings.

Hy kan breëbors loop oor 244 internasionale paaltjies (155 in T20-stryde, 72 in eendagkrieket en 17 in toetse) en was heel handig met die kolf ook.

Dit was hy wat die spreekwoordelike kapteinsarmband gedra het toe Suid-Afrika in Januarie 2009 ’n geskiedkundige eendag­reeks-sege in Australië behaal het, en het in 21 wedstryde die leisels gehou.

Maar natuurlik was daar ook donker dae vir Botha.

In 2006, ná sy heel eerste toets, is hy verbied om te boul nadat bevind is hy “gooi”.

Gesensor . . . Botha se boulaksie is drie keer verkla en ondersoek.

Hy het geskaaf aan sy aksie en uiteindelik die jawoord gekry om terug te keer. Maar in 2009, en toe weer in 2012, was die wolf terug voor die deur.

“Die hoogtepunt van my loopbaan is beslis daardie reeks in Australië, wat ons 4-1 gewen het ná niemand ons eintlik ’n kans gegee het nie. Graeme (Smith) kon nie speel nie omdat hy sy hand gebreek het, en dit was vir my ’n reuse-voorreg om die kapteinskap te kry in ’n span wat seniors soos Jacques Kallis en Mark Boucher ingesluit het.

“Maar aan die ander kant van die muntstuk was al daardie boultoetse en die aanklagte oor my boulaksie gróót laagtepunte. Die eerste keer hoop jy dis die enigste keer, die tweede keer is dit frustrerend, en teen die derde keer begin jy dink, dit is maar wat dit is.

“Terwyl ek daarin was, was dit sleg, maar minstens kan ek nou daarop terugkyk en sê dit het my sterker gemaak, dit het my karakter help vorm. En dit het my boulaksie ook gehelp. Die probleem was dat ek nie so lank voor die eerste keer nie van medium-snel- na draaiboul oorgeskakel het, so my aksie was nie verfyn nie. Daarin was ook weer die positiewe dat die swak gewoontes makliker uitgestryk kon word as wat die geval sou wees as ek dit lank gedoen het.

“Ek het net vyf toetse vir Suid-Afrika gespeel en jy wonder wat kon gewees het as daardie boul-ondersoek nie in die pad gekom het nie, maar in al drie formate het ek meer as 100 keer vir Suid-Afrika gespeel. Dis baie spesiaal, want as ’n seuntjie dink jy, net een keer sal genoeg wees. Honderd keer is ’n geskenk.”

Die gordyn het in 2012 finaal oor Botha se internasionale loopbaan gesak ná sy 40ste T20-verskyning, en daarna het ’n ingrypende verandering gevolg: ’n nuwe lewe in Australië.

Botha en sy gesin is in 2012 daarheen ndat hy ’n kontrak van twee jaar met Suid-Australië se Redbacks gesluit het – en hulle het dit soveel daar geniet, dat hulle steeds daar is.

Die oud-Protea het in 2016 ’n Australiese burger geword en daar was selfs gissinge dat hy vir sy nuwe nasie se nasionale span gekies kon word.

Dit alles ten spyt, sê hy, lê sy krieketlojaliteit steeds by sy geboorteland.

“Ek het maar snaaks gevoel met die Wêreldbeker-toernooi van 2015, want ’n paar ouens saam met wie ek grootgeword het, het eers ná my op die internasionale verhoog gespeel en by daai toernooi gespeel,” sê hy.

“Met vanjaar se Wêreldbeker is ek ook 100% agter Suid-Afrika. ’n Ou draai mos nie jou rug op die plek en op die span wat jou so baie gegee het nie. Natuurlik sal dit anders wees as ek ooit ’n Australiese afrigtingspos kry, maar dit sal al wees wat my lojaliteite kan skud.”

Die lewe in Australië behandel hom en sy gesin goed, sê Botha.

“Ons was nog nie een dag spyt dat ons Australië toe getrek het nie. Dis nou al ses en ’n half jaar, my dogtertjie (Ashley) is hier gebore en ons het die plek huis gemaak. Met die kinders nou in die skool is ’n skuif terug na Suid-Afrika ook nie regtig iets wat ons oorweeg nie, want hulle is gelukkig.

“Hulle is nie regte egte Australiërs nie, hulle het nie regtig daardie aksent nie, maar hulle praat nie eintlik Afrikaans nie. Hulle dink dis vreeslik snaaks om Afrikaanse woorde te sê,” lag Botha.

Die krieketgene het ook nie sy spruite verbygegaan nie, sê hy, maar dis sy meisiekind wat die sport die meeste omhels.

“Austin verkies sokker. Hy het dit verlede jaar begin speel en is versot daarop. Maar Ashley hou baie van krieket, veral van kolf. Hier in Australië is vrouekrieket baie groot en terwyl ek by die Sydney Sixers was het ons graag gaan kyk hoe hul vrouespan speel.

“My kinders word vanselfsprekend groot rondom krieket, omdat dit so ’n belangrike deel van my lewe is, maar ek wil dit ook nie op hulle afdwing nie. As Austin later besluit hy wil meer krieket speel, of Ashley behou daardie passie wat sy nou het, sal ek hulle elke tree ondersteun. Maar dis hul keuse.”

In dié stadium is Botha se keuse daarop om ander mense se kinders te help om hul krieketdrome te bewaarheid. Dít, sê hy, is waarom afrigting hom so na aan die hart lê.

“Die leuse waarmee ek afrig, is: ’n Goeie afrigter maak nie net op die veld ’n verskil nie,” sê hy.

“Vir my is dit belangrik om vir die jong outjies wat inkom en hul eerste treë gee, ook leiding weg van die veld te gee. Onthou, hulle kom by ’n franchise aan, en skielik het hulle sakke vol geld en ’n agent, hy word beroemd.

“Ek wil ook die ou wees wat hulle herinner om vas te byt wanneer dit nie so goed gaan nie. In daardie opsig kan ek uit my eie ervaringe tap, want ek is self ’n paar keer gedwing om sterk te staan en te glo alles gaan regkom.”

Meer oor:  Johan Botha  |  Kaptein  |  Krieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.