Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Covid-19 vel spelers sielkundig neer

Covid-19 het gelei tot ’n merkbare styging in die aantal krieketspelers wat hulle tot sielkundiges wend, sê Andrew Breetzke, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca).

Pakistan (en Covid-19 en bioborrels) kan ’n krieketspeler onderkry . . . AB de Villiers plat op sy rug tydens ’n toets in Pakistan in 2007. Foto: Gallo Images

Hierdie sessies tussen spelers en sielkundiges hou verband met Covid-vrese, sowel as die sielkundige gesondheidsaspek van bioborrels wat spelers op toer moet verduur.

Die Proteas betree nou juis ’n bioborrel in Pakistan nadat hulle Vrydag na Karatsji gevlieg het.

“Jy sal verbaas wees oor die aantal skakelings met sielkundiges – Saca konsulteer met verskeie sielkundiges landwyd – tydens Covid-19.

“Ons getalle hiervan is nou hoër as wat dit ooit vantevore was,” sê Breetzke.

Hy sê Saca het ook gevra dat ’n app vir spelers ontwerp word wat hulle toelaat om hul sielkundige welstand en hul Covid-19-status self te monitor.

Die span se psigiese welstand gaan uitgedaag word op hul toer in Pakistan, maar Breetzke reken die tydperk net ná die toer kan moontlik erger wees.

“Alles was tydens die Sri Lanka-reeks redelik ontspanne in die bioborrel in Irene. Gesinne het net voor Kersfees ingekom en het gebly tot Nuwejaar. Quinny (de Kock) kon selfs visvang in ’n dam daar waar die span gesetel was,” sê Breetzke.

“Dit gaan strenger wees in Pakistan. Hulle sal onmiddellik in kwarantyn geplaas word en hulle sal nie eens enige Pakistanse netboulers kan inkry nie, wat die rede is waarom hulle so ’n groot groep gevat het.

“Die grootste uitdagings sal egter wees wanneer hulle van Pakistan terugkeer, want hulle sal dan weer onmiddellik in isolasie gaan voordat die Australiese span hier aanland.”

Die eerste toets teen die Aussies is tans geskeduleer om op 18 Februarie te begin – slegs vier dae ná die einde van die drie beplande T20’s in Pakistan.

Die toetsspan kan moontlik ná die tweede toets teen Pakistan in Rawalpindi, wat op 8 Februarie eindig, terugkeer om so langer te kan voorberei vir die Aussies.

Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van Saca. Foto: Gallo Images

Al die onsekerheid rakende die speelkalender bring nog meer angs na ’n Covid-19-situasie wat reeds spanning veroorsaak, sê ’n Kaapse sportsielkundige, wat deur Saca as konsultant gebruik word. “Die onsekerheid raak ons almal – die onsekerheid om nie te weet wat die toekoms inhou nie,” sê die sielkundige, wat verkies om anoniem te bly.

“Klarigheid, al is dit negatief, is beter, want dit gee jou iets om mee te werk. Die onsekerheid wat die spelers tans ervaar, is stresvol.

“Ek volg die Engelse Premierliga (sokker) meer as ooit en die onsekerheid manifesteer daar. Dit is die onsekerheid om nie te weet of jy die volgende week gaan speel nie.”

Hy sê sielkundiges kyk vir sekere tekens wanneer hulle met spelers werk wat gespanne is oor die situasie.

“Een so ’n teken is byvoorbeeld as spelers hulle sosiaal onttrek.

“Dit lyk of Covid oor die algemeen enige swakpunte in mense se sielkundige mondering blootlê.”

Breetzke sê Krieket Suid-Afrika en Saca het alles in hul vermoë gedoen om te verseker dat die toer na Pakistan so gerieflik moontlik is. Hy meen egter die huidige omstandighede waarin internasionale sport plaasvind, is onuithoudbaar.

“Niemand dink die status quo het ’n langtermyntoekoms nie.”

Tony Irish, Breetzke se voorganger by Saca en uitvoerende hoof van die Federasie van Internasionale Krieketspelersverenigings (Fica), deel Breetzke se siening.

Hy sê terwyl entstowwe nie beskikbaar gestel word nie, is die huidige situasie met internasionale krieketspelers onvolhoubaar, selfs op die mediumtermyn.

Meer oor:  Andrew Breetzke  |  Proteas  |  Covid-19  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.