Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Vrae ná Cobras slegs 2 swart spelers kies

Krieket Suid-Afrika (KSA) se kwotavereistes in die plaaslike meerdagreeks kan in die komende dae onder die vergrootglas kom, nadat die Cape Cobras Maandag een etniese swart speler te min in hul span wat die Warriors op Nuweland pak, gekies het.

Thando Ntini / Foto: Gallo Images

KSA vereis dat spanne minstens drie etniese swart spelers inspan in elke plaaslike meerdagwedstryd. Die Cobras het Maandag uitgestap met net twee: Thando Ntini en Thladi Bokako, wat albei naatboulers is.

Die Cobras wou nie kommentaar lewer nie, en het net gesê hulle sal binnekort ’n verklaring uitreik oor die kwessie. Dit is dus steeds nie duidelik of ’n etnies swart speler weens ’n besering of ’n ander onverklaarde rede onttrek is nie.

’n Woordvoerder van Krieket Suid-Afrika het gesê hy kan hom nie uitlaat oor die Cobras-span nie en het navrae na die franchise verwys.

Die franchise se woordvoerder het op sy beurt gesê KSA is ingelig van die span wat gekies is en die franchise sal later ’n amptelike verklaring uitreik.

Die Cobras het die naweek ’n groep van 13 spelers aangekondig waaruit hulle die span vir die Warriors-wedstryd sou kies. Daar was drie etniese swart spelers in dié groep: Ntini, Bokako en nóg ’n naatbouler, Akhona Mnyaka.

Aviwe Mgijima en Tsepo Ndwandwa het in die vorige wedstryd saam met Ntini speelkans gekry. Dit was Ntini se eerste meerdagwedstryd vir die Cobras.

Die Cobras speel wel met sewe spelers van kleur in die wedstryd teen die Warriors. Die ander vyf is die kaptein Dane Piedt, Zubayr Hamza, Dane Paterson, Matthew Kleinveldt en Jason Smith.

Piedt, Hamza en Linde is almal pas terug van die Proteas se rampspoedige toer in Indië.

Die twee Malan-broers Janneman en Pieter, Kleinveldt en veral die paaltjiewagter Kyle Verreynne het tot dusver in die reeks met die kolf uitgeblink vir die Cobras.

Kleinveldt het waarskynlik die keurders se kaarte kwaai deurmekaar gekrap met sy 175 in die vorige wedstryd.

Die Kapenaars was ’n keer of wat baie naby aan ’n sege.

Hulle het in die eerste wedstryd teen die Lions naelskraap met 11 lopies verloor op ’n blad waarop draaiers baljaar het.

Enigeen kon gewen het in die wedstryd waarin die draaiers 28 van die 40 paaltjies platgetrek het. Daar het op die eerste dag reeks 18 paaltjies geval en nog 21 op die tweede dag.

Reën het verlede week sake beduiwel vir die Cobras in hulle vorige wedstryd in Pietermaritzburg.

Maandag op die eerste dag teen die Warriors is daar ook net 67 boulbeurte op Nuweland afgestuur.

Die Warriors, wat deur Piedt ingestuur is om te gaan kolf, het die dag op 189/3 afgesluit.

Meer oor:  Ksa  |  Cape Cobras  |  Plaaslike Krieket  |  Kwotas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.