Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Vrae oor Proteas op én weg van veld

Die gevegte in die raadsale van Krieket Suid-Afrika (KSA) is so bloedig, die onbeholpenheid so verstommend, dat ’n mens maklik van sake op die speelveld kan vergeet.

Aiden Markram het sy hand gebreek nadat hy sy frustrasie met sy eie spel in Indië op ’n “soliede voorwerp” uitgehaal het. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika speel op 26 Desember in Centurion in die eerste van vier toetse teen Engeland.

Niemand weet nog wie die Proteas se elftal gaan kies nie, aangesien daar nog nie ’n hoofkeurder aangestel is nie en KSA nie wil sê wie die tussentydse keurpaneel is nie.

“Ek weet nie van een leser wat daarin sal belangstel om te weet wie die Suid-Afrikaanse span kies nie,” het Thamie Mthembu, KSA se woordvoerder, Woensdag gereageer toe ’n joernalis van IOL hom gevra het wie die tussentydse keurkomitee is.

Dit is ook nog onduidelik wie die direkteur van krieket gaan wees, maar ons weet darem dat Enoch Nkwe weer as spandirekteur (afrigter) gaan waarneem. Wie sy assistente gaan wees, is nog nie duidelik nie.

As daar wel ’n waarnemende keurkomitee is, sal hulle baie vinnig moet begin met ’n bestekopname oor die spelers wat beskikbaar is om Engeland te pak.

Daar is byvoorbeeld ’n vraagteken oor die beskikbaarheid van Aiden Markram, wat sy hand in die tweede toets van die katastrofiese toetsreeks teen Indië gebreek het. Markram het sy woede op ’n “soliede voorwerp” uitgehaal ná sy soveelste mislukking met die kolf. Sport24 het vroeër vandeesweek berig hoewel Markram stadige vorderinge toon, loop hy steeds die gevaar om nie betyds gereed te wees vir die eerste toets nie.

Sommige lede van die Protea-toetsspan kry wedstryd-oefening in die Mzansi-superliga (MSL). Dean Elgar, Quinton de Kock en Temba Bavuma toon goeie kolfpeil, terwyl Faf du Plessis nog nie heeltemal oortuig het nie. Theunis de Bruyn het al twee 40-talle vir die Tshwane Spartans geslaan.

Zubayr Hamza onderweg na sy vyftigtal teen Indië. Foto: Gallo Images

Keshav Maharaj is terug ná sy skouerbesering en speel vir die Durban Heat. Kagiso Rabada is louwarm vir die yskoue Jozi Stars.

Anrich Nortjé speel goed vir die Cape Town Blitz en Vernon Philander boul sonder slagtande, maar ekonomies.

Lungi Ngidi vertoon so-so vir die Spartans.

’n Mens kan egter nie werklik iets wys raak oor spelers se toetspeil uit T20-krieket nie.

In toetskrieket moet boulers 20 of meer beurte op ’n dag kan afstuur, terwyl hulle in blitskrieket net skofte van vier beurte het. Kolwers, weer, moet ’n heeltemal ander ingesteldheid hê in toetskrieket, waar goeie tegniek en geduld die belangrikste deugde is. Al waarmee die MSL hulle moontlik kan help, is om ’n bietjie selfvertroue op te bou.

Die keurders, sou daar so iets by die versukkelde KSA wees, sou wel bekommerd wees oor Zubayr Hamza, wat voortaan ’n belangrike rol in die Protea-kolforde kan vertolk.

Hamza het ’n goeie vyftigtal in die laaste toets teen Indië geslaan, maar sedertdien nie veel krieket gespeel nie. Hy is vir ’n nulletjie uit in elk van sy drie laaste kolfbeurte en speel nou eendagkrieket vir die Westelike Provinsie terwyl die MSL aan die gang is.

Daar is boonop nog net een ronde van wedstryde in die plaaslike meerdagreeks oor voor die eerste toets teen Engeland.

Dit laat spelers nie met veel tyd om meerdag-wedstrydskerpheid te herwin nie.

Hoe die span gaan lyk wat dus op 26 Desember op SuperSport-park uitstap, is nog ’n raaisel. ’n Mens kan net hoop hulle vertoon beter as KSA se baadjiedraers.

Meer oor:  T20  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.