Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Vrouekrieket hoog op KSA se agenda

Graeme Smith wil verseker dat die Protea-vrouekrieketspan voortbou op hul puik vertonings by die T20-Wêreldbeker (T20-WB) vroeër vanjaar, maar eers moet dié span ’n nuwe hoofafrigter kry.

Krieket Suid-Afrika (KSA) gaan die afrigterspos vir die vrouespan vandeesmaand adverteer. Hilton Moreeng het die Protea-vroue in Februarie en Maart tot die halfeindronde van die T20-WB in Australië gebrei en die verwagting is dat hy weer sal aansoek doen.

Dané van Niekerk, die Protea-kaptein, vroeër vanjaar in Australië teen Engeland in aksie by die T20-Wêreldbeker-toernooi vir vroue. Foto: Getty Images

Niks verhoed die mense wat nou in daardie poste was, om weer aansoek te doen nie,” sê Smith, KSA se direkteur van krieket.

Moreeng het goeie werk met die vrouespan verrig. In Suid-Afrika is daar geen beroepsliga vir vrouespelers nie. Slegs die 14 nasionaal gekontrakteerde vroue kan voltyds krieket speel. Desondanks het hulle ’n groot span soos Engeland, wat ’n semi-professionele vroueliga het, by die T20-WB platgetrek.

Die Aussies, wie se Big Bash-liga vir vroue die toonaangewende beroepsvroueliga wêreldwyd is, het Suid-Afrika boonop net naelskraaps met vyf lopies in die halfeind geklop.

Sedert die Suid-Afrikaanse vroue se terugkeer, is daar verskeie pleidooie gelewer om ’n beroepsliga hier op die been te bring. Die sterspeler Laura Wolvaardt het in ’n onderhoud met Rapport gesê sy glo ’n professionele liga sal die landskap van vrouekrieket in Suid-Afrika ongelooflik verryk.

Smith sê hulle oorweeg alle opsies en wil vrouekrieket graag bevorder, veral aangesien Suid-Afrika die T20-WB in 2022 aanbied.

“Maar dit moet finansieel lewensvatbaar wees. Ons gaan ’n groot fokus op vrouekrieket in die besonder plaas met die Wêreldbeker-toernooi wat volgende jaar (in Nieu-Seeland) plaasvind en ons wat die T20-WB in 2022 aanbied.

“Ek het reeds my gesprekke oor spelersontwikkeling met die vroue gehad en die lys van gekontrakteerdes is reeds daar. Daar is ’n behoefte en ’n begeerte om dit meer professioneel te maak.”

Hilton Moreeng, die vorige afrigter van die Protea-vrouespan. Foto: Gallo Images

Daar is lesse te leer uit vrouekrieket in lande soos Australië en Engeland, sê Smith.

“Die doelwit is om die span nog meer te verbeter. Sekere van die ander lande is nou al ’n geruime tyd aan die spits van vrouekrieket en hulle is voor die ander lande met alles wat hulle geïmplementeer het en die professionaliteit waarmee hulle te werk gaan.

“Ons wil nou terugvoering kry en probeer om te verstaan watter besluite ons kan neem wat hulle op lang termyn kan help.”

Hy sê die 14 nasionaal gekontrakteerde vroue het reeds oefenprogramme gekry wat hulle tydens die staat van inperking moet volg.

“Net soos die mans het hulle oefenprogramme gekry vir dié tydperk en ek het vir hulle gesê as hulle meer professioneel wil word, is daar ook ’n verantwoordelikheid aan hul kant.”

Meer oor:  Graeme Smith  |  Ksa  |  Vrouekrieket  |  Protea-Vrouekrieketspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.