Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Vuilbek Ben Stokes dalk in die sop
Ben Stokes stap van die veld af nadat hy sy paaltjie aan Anrich Nortjé afgestaan het. Foto: Getty Images

Engeland se vuurvreter Ben Stokes gaan waarskynlik gestraf word nadat hy Vrydag ’n ondersteuner by die Wanderers gevloek het.

“Kom sê dit vir my buite die stadion, jou f*kk*n vieroog-k**t,” het Stokes ’n ondersteuner toegesnou nadat hy sy paaltjie vir 2 lopies verloor het op dag een van die vierde toets teen Suid-Afrika.

Stokes se woorde kon op televisie gehoor word, maar nie dit wat die ondersteuner hom toegesnou het nie. Volgens ESPNcricinfo het die toeskouer, wat glo middeljarig is, gesê Stokes lyk soos die rooikop-popsanger Ed Sheeran.

Engeland het Vrydagaand nog niks van die wedstrydskeidsregter gehoor nie, maar Stokes behoort met een strafpunt gestraf te word as die Internasionale Krieketraad bestendigheid handhaaf.

Die Engelse paaltjiewagter Jos Buttler het vroeër in die reeks ’n strafpunt gekry nadat hy gekruide taal in die toets in Kaapstad gebruik

het. Spelers word volgens die IKR se gedragskode gestraf as hulle hoorbaar op die veld vloek.

Beuran Hendricks, wat sy buiging in dié toets maak, het ná die dag se spel gesê opgesweepte ondersteuners kan ’n uitdaging by die Wanderers wees.

“Dit is ’n spel waar die publiek betrokke is. Ons keur dit nie goed as ondersteuners hard uitkom teen spelers nie – ons verwag meer van ondersteuners,” sê Hendricks, wat die dag met 1/43 afgesluit het.

“Ons almal wil die spel geniet. Ons sal die ondersteuners vra om respekvol te wees en seker te maak hulle geniet die spel soveel soos ons.

“Ons kan nie dit wat die ondersteuners doen, beheer nie. Ons kan net seker maak ons bly op die spel gefokus en reageer nie op enigiets wat ondersteuners doen nie.”

Dit is te verstane dat Stokes teleurgesteld was, want nadat hy sy paaltjie verloor het, het Engeland op 157/4 gestaan. Toe hy saam met Joe Root (25*) voor die penne was, was die Engelse goed op koers na ’n reuse-telling.

Root en Ollie Pope (22*) het egter voortgekolf en die uitskeityd op 192/4 op ’n reënverkorte eerste dag bereik.

Maar ná die eerste twee boulbeurte het ek begin kalmeer.
Beuran Hendricks

Die Proteas het vrot geboul in ’n eerste sessie wat Engeland op 100/0 afgesluit het. In die tweede sessie het sake beter verloop.

“Teetyd het ons vir onsself gesê ons is beter as wat ons in die eerste sessie geboul het,” sê Hendricks.

“Almal het verskillende persoonlike planne en ons moes daarby gehou het. In die eerste sessie het ons dalk te vol geboul en in die tweede sessie het ons met meer aggressie geboul.”

Hendricks sê dit was ’n voorreg om die nuwe bal met Vernon Philander (1/37) te deel, maar hy was baie senuweeagtig.

“Maar ná die eerste twee boulbeurte het ek begin kalmeer.”

Hendricks sê die blad sal vinniger raak deur die loop van die toets.

Die 21-jarige Engelse aanvangskolwer Zak Crawley glo die blad gaan net moeiliker raak om op te kolf.

“Ek dink 300 sal ’n baie goeie eerstebeurttelling wees,” het Crawley (66) gesê, wat sy eerste toetsvyftigtal aangeteken het.

* Stokes het later om verskoning gevra vir sy taalgebruik. Hy sê hy is herhaaldelik deur toeskouers gekoggel, maar is spyt dat hy onprofessioneel opgetree het. 

TELKAART

Meer oor:  Krieket  |  Wanderers  |  Beuran Hendricks  |  Ben Stokes  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.