Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Vurige blits nou kalm met kwas in hand
Die voormalige krieketspeler Mike van Vuuren skilder graag. Foto: Facebook

Mike van Vuuren, in sy jong dae bekend as ’n uiters vurige snelbouler, is deesdae ’n rustige skilder.

“Dit is omdat ek nou skielik meer tyd het om my stokperdjie te geniet,” vertel Van Vuuren (61).

Tussen 1978 en 1992 het Fires, soos hy alom bekend is, vir die Oostelike Provinsie en Grens krieket gespeel.

Mike van Vuuren se skildery van die Wes-Indiese krieket-legende Clive Lloyd. Foto: Facebook
Van Vuuren werk nog aan hierdie skildery van die eertydse Australiese snelbouler Dennis Lillee. Foto: Facebook

Hy het nie net kolwers laat bontstaan met sy blitsige aflewerings nie, maar het ook graag die langsteel ingelê en groot houe probeer moker.

Hy werk deesdae in die “bandebedryf” en moes ook weens die inperkings tuis bly.

“Ek het die tyd aangegryp om meer te skilder. Ek het nog nooit lesse gekry om te skilder nie, maar ek teken en verf al van kleins af,” sê Van Vuuren.

Hy was in “sub A of B” toe hy ’n prys gewen het vir een van sy eerste kunswerke.

“Ek het ’n vis geteken en vir ’n kompetisie, wat in die Walmer-stadsaal (in Port Elizabeth) gehou is, ingeskryf. Toe wen ek. Ek dink ek het R5 gewen!” onthou Van Vuuren.

Deur die jare het hy maar sy kuns geoefen wanneer hy daarvoor tyd gekry het.

Soos in 1985 toe hy in Engeland klubkrieket gespeel en dit verskriklik baie gereën het.

“Ek dink dit het vir 40 dae aaneen gereën. Toe skilder ek maar!” vertel Van Vuuren laggend.

Mike van Vuuren is nog besig om hierdie skildery vir die Union-krieketklub in Port Elizabeth klaar te maak. Die klub het lank ’n enkelpaaltjie-toernooi aangebied en die skildery beeld karakters uit wat daarby betrokke was. In die middel is die voormalige Protea-kaptein Clive Rice. Foto: Facebook

Hy gebruik die graagste olieverf, maar waag ook sy hand aan akriel en waterverf.

“Ek hou daarvan om sportgebeurtenisse of sporthelde te skilder. Die see dien ook as inspirasie,” sê Van Vuuren.

Van Vuuren versamel ook al vir jare krieketkolwe waarop spelers se handtekeninge pryk.

Mike van Vuuren ’n hele klompie jaar terug saam met ’n vis wat hy gevang het. Van Vuuren het as jong seun ’n prys gewen vir een van sy kunswerke wat ’n vis uitgebeeld het. Foto: Facebook

“Ek het nou al 521 kolwe. Van die manne wie se handtekeninge op my kolwe pryk, sluit in (Don) Bradman, (Gary) Sobers en (Ian) Botham,” sê Van Vuuren.

“Ek het op ’n kol begin om ’n skildery van ’n speler te maak en die plan was om dit dan saam met die kolf te raam.”

Wanneer Van Vuuren aan die gang kom, is hy omtrent ’n masjien – nes in sy speeldae.

“As ek in die zone kom, bly ek in die zone. Saterdag het ek 07:30 die oggend begin skilder en aangehou tot 03:00 Sondagoggend,” sê Van Vuuren.

As speler kon Van Vuuren vinnig en vurig boul. Hy het dit ook geniet om sesse te moker. Foto: Facebook

Van sy skilderye is baie gesog. Hy het op ’n keer die Suid-Afrikaanse branderplankryer Shaun Tomson, ’n voormalige wêreldkampioen, geskilder.

’n Vriend het die skildery gesien en vir Tomson gaan wys. Tomson het die skildery toe geteken.

“Iemand het my toe R15 000 vir die skildery aangebied. Dit was seker maar vir Shaun se handtekening,” sê die beskeie Van Vuuren.

’n Paar van die kolwe in Mike van Vuuren se versameling. Foto: Facebook

Meer oor:  Grens  |  Plaaslike Krieket  |  Op  |  Fires
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.