Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wag utopie vir ‘realistiese’ Proteas?

Rassie van der Dussen lees op die oomblik die boek Utopia for Realists.

Uit die boek, deur die Nederlandse skrywer Rutger Bregman, het hy reeds ’n paar lesse geleer wat hy in die Protea-krieketomgewing kan toepas.

Rassie van der Dussen moker die bal in sy spogbeurt Dinsdagaand teen Engeland. Foto: Getty Images

“Vir my is die utopie dat ons as ’n span wedstryde wen en goed speel, maar deel daarvan om realisties te wees, is om dinge binne konteks te sien,” het Van der Dussen vroeër vandeesweek ná sy skitterbeurt van 74* (32 balle) in die Proteas se nederlaag in die derde T20-wedstryd teen Engeland gesê.

En hoewel die Proteas daardie reeks met 0-3 verloor het – en dus wraak sal wil neem in die eendagreeks, wat Vrydag op Nuweland begin – ís daar konteks wat ’n mens in gedagte moet hou.

“Engeland is tans die beste witbalspan in die wêreld, ons het nege maande as ’n span laas saamgespeel en ons het beserings gehad, soos Dwaine Pretorius, Andile Phehlukwayo en David Miller . . . Ons maak nie verskonings nie, maar daardie dinge tel tog,” sê Van der Dussen.

Goeie nuus vir Van der Dussen, Mark Boucher (afrigter) en Quinton de Kock (kaptein), is dat Phehlukwayo en Miller weer beskikbaar sal wees vir die eendagreeks.

Die Proteas sal wel sonder Faf du Plessis moet klaarkom, want die Proteas het Donderdag aangekondig dat hy ’n blaaskans gegun word. Kagiso Rabada is ook nog beseer.

Pite van Biljon (Knights), Reeza Hendricks en Bjorn Fortuin (albei Lions) is ook van die groep vrygestel en sal vir hul franchise-spanne beskikbaar wees.

Die Proteas sal daarna streef om in die eendagreeks meer bestendig met die bal te wees en steeds goeie werk met die kolf te verrig. Dit is juis die kolfwerk wat vir Van der Dussen een van die hoogtepunte in die T20’s was.

“Ons was goed met die kolf, baie naby aan waar ons wil wees. Met die bal was daar in elke wedstryd net een bouler wat baie lopies afgestaan het, maar dit is die aard van die spel,” sê hy.

Hy kyk dus realisties na die situasie, maar het steeds ’n Protea-utopie in die visier.

“Ons het in die winter met ’n reis begin met hierdie span en ek is baie opgewonde daaroor. Die uitslae het dit nie in dié reeks weerspieël nie, maar gee ’n duidelike prentjie oor waarheen ons op pad is.”

Van der Dussen en die Proteas se boulafrigter, Charl Langeveldt, is dit eens dat Rabada ’n groot verlies is, maar dat dit ’n kans vir ander spelers bied om na vore te tree.

Junior Dala kan moontlik sy terugkeer tot die span maak.

Langeveldt sê die terugkeer van Phehlukwayo sal die spanbalans in die eendagreeks ’n hupstoot gee.

Suid-Afrika se eendaggroep: Quinton de Kock (k), Temba Bavuma, Junior Dala, Beuran Hendricks, Heinrich Klaasen, George Linde, Keshav Maharaj, Janneman Malan, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortje, Andile Phehlukwayo, Tabraiz Shamsi, Lutho Sipamla, Jon-Jon Smuts, Glenton Stuurman, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne.

Engeland se groep: Eoin Morgan (k), Moeen Ali, Jonathan Bairstow, Sam Billings, Jos Buttler, Tom Curran, Lewis Gregory, Liam Livingstone, Adil Rashid, Joe Root, Jason Roy, Olly Stone, Reece Topley, Chris Woakes, Mark Wood.

• Die wedstryd begin om 13:00.

Meer oor:  Eendagreeks  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.