Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wanderers dalk Faf se laaste tuistoets

Faf du Plessis gaan waarskynlik van Vrydag af in sy laaste toets op tuisbodem speel.

Du Plessis, Suid-Afrika se kaptein, het Maandag ná sy krieketspan se nederlaag met ’n beurt en 53 lopies in die derde toets teen Engeland in Port Elizabeth bevestig hy is nog toegewy tot Protea-krieket. Minstens tot ná die T20-Wêreldbekertoernooi (T20-WB), wat in Oktober en November in Australië beslis word.

Faf du Plessis teen Engeland in die Baai in aksie. Foto: Reuters

Hy kan wel die tuig neerlê as eendagkaptein en dit klink of die weg-toetsreeks in Julie teen die Wes-Indiese Eilande sy laaste kan wees.

Maar vir nou is hy daarop gefokus om die vierde en laaste toets in Johannesburg teen die Engelse te probeer wen, om die reeks sodoende met 2-elk te deel. Hy erken dit kan sy laaste toets in Suid-Afrika wees.

“Ja, beslis, dis ’n moontlikheid,” sê Du Plessis.

“Ek wou van die begin af geen emosionele besluite neem nie of besluite gegrond op waar ons as ’n span is.

“Dit gaan nou daaroor om die sterkste leier vir die span te wees. Dit gaan nou oor die reeks. Die slegste ding wat ’n leier kan doen, is om in die middel van ’n reeks te sê jammer, ouens, ek is uit, ek het genoeg gehad.”

Dit is wat Hashim Amla gedoen het die laaste keer wat die Engelse hier getoer het.

“Ek dink nie dit is waaroor leierskap gaan nie. Jy moet vasbyt in die taai tye.”

Hy sal waarskynlik nog net in drie toetse speel.

“Daar is twee toetse in die Wes-Indiese Eilande en dan is die res van die jaar witbalkrieket,” sê hy.

“Ek kan nie te ver vooruit kyk nie, maar daarna sal toetskrieket my waarskynlik nie weer sien nie. Dit is ’n besluit wat ek eers later finaal sal neem.

“Toetskrieket is die formaat wat die meeste uit jou haal en waarin jy die meeste weg van die huis af is.

“As ek eerlik met myself is, is witbalkrieket waar ek tans die suksesvolste is. In eendagkrieket is my statistieke van die beste in die wêreld, maar in toetskrieket is my statistieke nie op die oomblik waar dit moet wees nie.

“My toetsgemiddeld is 40.23 en ek moet beter as dit wees.”

Du Plessis se kolfgemiddeld in eendagkrieket is 47.47 – die 11de beste nóg van enige kolwer met meer as 5 000 eendaglopies wêreldwyd. Hy was die beste Protea-kolwer in die Wêreldbekertoernooi verlede jaar, maar weens die span se swak vertoning en sy eie onlangse gesukkel in toetskrieket, eis baie mense sy kop.

Hy probeer om daardie geraas te ignoreer. “Maar ek is nie ’n robot nie, so dit vat aan jou.

“Ons het ’n paar ouens wie se spelpeil swak is en ek is een van hulle.”

Ná die vierde toets speel die span in T20-reekse teen Engeland en Australië en in drie eendagreekse voor die toer na die Karibiese Eilande.

“Daar kan ’n geleentheid wees om vir ouens geleenthede in witbalkrieket te gee om die kapteinskap oor te neem,” sê Du Plessis.

“Dit is om seker te maak ons kyk na die toekoms, sodat daar beplanning en doelgerigtheid is vir drie, vier jaar die toekoms in.”

Suid-Afrika speel in Februarie in drie eendagwedstryde teen Engeland en in Maart teen die Aussies en Indië elk in drie eendagwedstryde. Die kans is goed dat die eendagspan ’n nuwe kaptein kan kry.

Meer oor:  Wes-Indiese Eilande  |  Krieket  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.