
Mthiwekhaya Nabe (regs) het die Warriors weer aan die dans gehad. Foto: Gallo Images
Die Warriors-bouler Mthiwekhaya Nabe was die tweede agtereenvolgende dag vuurwarm terwyl hy sy span Donderdag gehelp het om hul aanspraak op ’n plek in die uitspeelronde van die T20-reeks lewend te hou.
Die Baaise span het die Knights in hul laaste wedstryd met 14 lopies getroef om met nege ligapunte die derde plek op die punteleer in te neem. Hul lot sal nou in Vrydag se laaste twee wedstryde bepaal word.
Nabe het sy loopbaanbeste van 4/21 Woensdag met syfers van 3/19 teen die Knights opgevolg. Sodoende het hy die Bloemfonteiners help beperk tot 143, in antwoord op die Warriors se 157/8.

Raynard van Tonder het verbete bly kolf terwyl sy spanmaats om hom geval het. Foto: Gallo Images
Raynard van Tonder was die enigste Knights-kolwer wat hond haaraf teen Nabe en sy mede-boulers kon maak. Hy was met ’n onoorwonne 81 van 57 balle – die hoogste telling tot dusver in die toernooi en sy eerste T20-vyftigtal op franchise-vlak – die enigste een wat meer as 20 lopies kon aanteken.
Hy was met die tweede aflewering van die kolfbeurt reeds voor die paaltjies nadat Pat Kruger uitgehardloop is.
Saam met Nabe het die Protea-blits Anrich Nortjé (2/17) ook die Knights-kolwers gewurg.
Vroeër het Jon-Jon Smuts (33) en Gihahn Cloete (22) die Warriors ’n blitsige begin gegee voordat die Knights se draaiers ’n mini-ineenstorting bewerkstellig het.
Shaun von Berg (2/27) het in sy tweede boulbeurt van albei ontslae geraak. Matt Kleinveldt (2/17) het daarna vir Sinethemba Qeshile (0) en Wihan Lubbe (2) goedkoop in sy eerste twee boulbeurte uitgehaal om die Warriors van 53/0 tot 66/4 te laat steier.
Lesiba Ngoepe (41, 30b) het daarna lyf aan die kolfbeurt gegee, terwyl Nortjé (15 nun, 4b) een van die stertkantkolwers was wat losgetrek het.
Die hotklou-naatbouler Mbulelo Budaza het ná suinige boulwerk in die 13de, 15de en 17de beurte in ’n stadium met syfers van 2/5 gespog. Hy het eindelik met 3/18 geëindig.
Die hotklou-naatbouler Mbulelo Budaza het ná suinige boulwerk in die 13de, 15de en 17de beurte in ’n stadium met syfers van 2/5 gespog. Hy het eindelik met 3/18 geëindig.
• Die Lions is vir die res van die toernooi sonder die veelsydige Dwaine Pretorius, wat ’n ribbesering opgedoen het.
Hulle het met 12 punte reeds gekwalifiseer vir die uitspeelwedstryde en speel Vrydag in hul laaste wedstryd teen die Cape Cobras, wat 4 punte het.
Die onoorwonne Dolphins (17) speel daarna in hul laaste wedstryd teen die Titans (8), wat met twee punte vir die uitspeelrondes kan kwalifiseer.