Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Warriors-kaptein groet Tuks ná 10 j.

’n Trotse era in Assupol Tuks-krieket het tot ’n einde gekom toe Martin Slabbert die Weekend Warriors vir ’n laaste keer teen die span van die Weermag aangevoer het.

Die afgelope tien jaar was Slabbert die kaptein wat werklik voor gevat het en seker gemaak het die span se veldtog bly op koers.

En watter veldtog was dit nie!

Die Weekend Warriors: Voor is Brett Alexander, Martin Slabbert, Werner Snyman, Conrad le Roux en Morne Joubert. In die middel is Nico Kruger, Lucky Moshoati en Elandre Beukes en agter is Jannie Stadler, Morne Niemand, Johan Pretorius, Pieter Swartz, Matimu Mayayise, Adriaan van der Merwe, Lloyd Oettle, Martin van Tonder, Tiaan Engelbrecht, Francois Conradie en Johan Fourie met Gideon Scheepers wat heel agter staan.Foto: Blanche Conradie

Die Weekend Warriors was in verskeie van Noordelike krieketligas in aksie en was baie meer aan die wenkant as wat hulle verloor het.

Slabbert het die span in 143 wedstryde aangevoer, waarvan hulle 108 gewen het. In dié wedstryde het die Warriors altesaam 28 541 lopies aangeteken en 1 231 paaltjies laat kantel.

Die span se hoogste telling was 621/8 teen Mamelodi.

In nog ’n 45 boulbeurt-wedstryd teen Pretoria-Oos is daar 463/5 aangeteken.

Slabbert het self 5 123 lopies teen ’n gemiddeld van 44.5 aangeteken. Dit sluit 12 honderdtalle en 27 vyftigtalle in.

As bybreekbouler het hy 116 paaltjies laat kantel. Sy beste boulontleding was 5/52.

Die samestelling van ons span is uniek. Ons is amper ’n ‘Verenigde Nasies’ in die kleine, want daar is verskeie nasionaliteite wat vir ons speel.

Die enigste rede waarom hy nie meer vir die Weekend War-r­iors kan speel nie is omdat hy ’n werksaanbod in Nieu-Seeland ontvang het wat hy nie kon weier nie. Dat dit in Tuks-krieket se Eeufeesjaar moes gebeur, is jammer.

As daar iets is waaroor Slabbert baie sterk voel, is dat om vir die Weekend Warriors te speel glad nie beteken die spelers is minder geesdriftig nie.

“Die grootste verskil tussen ons beroeps- en provinsiale spelers is tyd. Elkeen van ons spelers is ongelooflik toegewyd. Byna almal van ons werk heeltyds, studeer of het ’n gesin en dit is ’n uitdaging om tyd te maak om te oefen en te speel.

“Wanneer ons krieket speel, probeer ons die meeste van elke minuut op die veld of in die oefennette maak. Vir ons is daar geen groter trots as om vir Tuks te speel nie.”

Amptelik oefen die span net een keer ’n week. Dit is op Vrydae, maar die oefening is nie verpligtend nie. Belangriker is dat wanneer wedstryde gespeel word daar beslis 11 spelers op die veld moet wees.

Iets waarop Slabbert met reg trots is, is dat onder sy kapteinskap hulle nooit ’n speler kort was nie. Hy sê daar was oomblikke wat hy effens bekommerd geraak het, maar op die ou end was daar altyd ’n nefie van nefie wat kom uithelp het.

“Ons is amper soos bloedbroers wanneer dit by krieket kom. ’n Geval van een vir almal en almal vir een.

“Die samestelling van ons span is uniek. Ons is amper ’n ‘Verenigde Nasies’ in die kleine, want daar is verskeie nasionaliteite wat vir ons speel. Ons jongste speler is 18 en die oudste 42. Sommige van ons is dokters, ander regsgeleerders of ingenieurs, asook enkele studente. Wie wat is, maak nie saak nie, want die oomblik wanneer ons op die veld stap, is almal gelyk. Al wat saak maak, is dat ons moet wen.”

Meer oor:  Krieket  |  Sport  |  Kaptein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.