Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Warriors wen, lopies reën in Bloem, Benoni

’n Puik veelsydige vertoning deur Onke Nyaku, die Speler van die Wedstryd, was die stukrag agter die Warriors se sege met drie paaltjies op die derde dag van hul meerdagkrieketwedstryd in Oos-Londen teen die Lions.

Nyaku het 3/41 geneem in die Lions se tweede beurt van 217 lopies, maar dit was eintlik sy bydrae met die kolf in die Warriors (166/7) se soektog na die teiken van 164 wat uitgetroon het.

Hy het 58 onoorwonne lopies geslaan en toegesien dat die tuisspan by die teiken uitkom.

Nyaku het gaan kolf met die Warriors in die moeilikheid op 67/5, maar ’n vennootskap van 80 lopies om die sesde paaltjie saam met Matthew Breetzke (59) het al die druk help verlig.

Malusi Siboto (4/47) was uitstekend vir die Lions, maar dit was pure verniet met hul kolwers wat weer nie die mas kon opkom nie.

Die aanvangskolwer Raynard van Tonder het sy eerste honderdtal vir die Knights aangeteken. Foto: Gallo Images

* Die Knights se Pite van Biljon (218, 347 b, 23x4;3x6) en Raynard van Tonder (165, 300 b, 15x4) het in gunstige kolftoestande in Bloemfontein teen die Dolphins baljaar, berig Johann de Jager.

Die Knights het 519/8 in hul eerste beurt, ’n voorsprong van 149 lopies, opgestapel. Die Dolphins sal die laaste dag hervat op 13/1 in hul tweede beurt.

Die tuisspan Woensdag op 191/3, ’n agterstand van nog 179, voortgekolf.

Van Tonder is op 20 ’n lewe gegun. Dié vangskoot is verbrou deur Okuhle Cele wat Van Tonder aan die begin van die Knights se kolfbeurt beseer laat uittree het toe hy hom op die elmboog raakgeboul het.

Die 21-jarige Van Tonder het voortgekolf om sy eerste honderdtal vir Knights aan te teken ná sy vyf vyftigtalle in sy eerste vyf wedstryde.

Dit was die kaptein Van Biljon se hoogste eersterangse telling na die onoorwonne 215 wat hy in 2013 vir die Vrystaat teen Suidwestelike Distrikte in Bloemfontein aangeteken het.

Die besoekers se draaier Prenelan Subrayen (5/124) het teen die einde vir die derde keer in sy loopbaan vyf paaltjies in ’n kolfbeurt laat kantel.

* Twee vergete nasionale eendagspelers het die keurders Woensdag op Willowmoorepark in Benoni aan hulle laat herinner in die kragmeting tussen die Titans en die Cape Cobras.

Die Titans se Farhaan Behardien (140, 250 balle, 16x4;2x6) het uitgetroon in die tuisspan se eerste beurt van 472, wat aan hulle ’n voorsprong van 134 lopies op die eerste beurt besorg het.

Dane Paterson (7/91) het op sy beurt weer met die bal geblink vir die besoekers. Dit is sy beste syfers nog en hy het man-alleen gehelp dat die Titans se voorsprong nie heeltemal hand uitruk nie.

Die Cobras het 140/2 in hul tweede beurt, ’n voorsprong van ses lopies met nog agt paaltjies staande.

Behardien het nou die tweede agtereenvolgende wedstryd so vroeg in die seisoen sy kolf gelig vir ’n honderdtal en Woensdag was hy en Dayyaan Galiem (81) in ’n rekord-vennootskap van 190 lopies om die sesde paaltjie betrokke.

Meer oor:  Titans  |  Meerdagreeks  |  Lions  |  Warriors  |  Cobras  |  Meerdagkrieket  |  Knights  |  Dolphins
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.