Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieket Suid-Afrika pleit: Wassie ons nie!

Die raad van Krieket Suid-Afrika (KSA) kan nie verantwoordelik gehou word vir die gemors waarin dié organisasie die laaste maande was nie. Alle dwarsklappe moet eerder na die geskorste uitvoerende hoof, Thabang Moroe, gemik word.

Botter kan nie in hul monde smelt nie . . . Die KSA-president Chris Nenzani (tweede van links), visepresident Bereford Williams, onafhanklike raadslid Marius Schoeman (heel links) en Zola Thamae van die departement van sport gister by KSA se nuuskonferensie in Johannesburg. Foto’s: Elizabeth Sejake

Dít is die siening van die KSA-president, Chris Nenzani, wat gister tydens ’n nuuskonferensie by die O.R. Tambo-lughawe geweier het om hand in eie boesem te steek oor krieket se katnes.

Hy het eerder vir Moroe onder die bus gegooi deur aan te dui dat hy nie die raad se besluite reg geïmplementeer het nie.

Redders van krieket? Jacques Faul en Dave Richardson (inlas) moet die KSA-skip na rustiger waters stuur.

“Die raad is nie aandadig wat besluitneming betref nie,” het Nenzani gesê. “Die raad het sekere besluite geneem en daardie besluite moes deur die uitvoerende hoof en sy bestuur geïmplementeer word. Ons het die uitvoerende hoof (Moroe) sekere verantwoordelikhede gegee en hy moes daaroor aan die raad antwoord. Die raad is weer daarvoor verantwoordbaar gehou deur ons lede. Die lede het ná ’n baie lang bespreking (Vrydagaand) besluit die raad moet in plek bly om seker te maak dat die uitdagings wat KSA in die gesig staar aandag kry.”

Die twee kwessies wat volgens Nenzani tot Moroe se skorsing gelei het, is die versuim om gelde verskuldig aan die Spelersvereniging (Saca) betyds te betaal en die terugtrek verlede Sondag van vyf joernaliste se media-akkreditasie.

Toe dit aan Nenzani gestel is dat hy en die raad weier om hul aandeel in die chaos te erken, het Nenzani geïmpliseer dat sy teenwoordigheid by ’n nuuskonferensie genoeg is.

“Dis hoekom ons hier sit en praat met die mense. Ons kan hier sê ons het besluite geneem om iets aan die probleme te doen.”

Die besluite waarvan hy praat, is die aanstelling van Jacques Faul as waarnemende uitvoerende hoof en Dave Richardson as raad-gewer.

Teen Woensdag behoort Graeme Smith se aanstelling as direkteur van krieket ook amptelik te wees.

Nenzani se hardnekkige weiering om verantwoordelikheid te aanvaar is nie positief ontvang op sosiale media nie. Onder diegene wat daaroor mond uitgespoel het, tel Tony Irish, die uitvoerende hoof van Saca, met wie KSA al maande lank ’n wankelrige verhouding het.

“(Ek is) in afgryse dat die president en raad van KSA geen verantwoordelikheid vir krieket se grootste krisis neem nie,” het Irish op Twitter geskryf. “Nou klou hulle aan die mag.”

Nenzani is op koers om langer in KSA se presidentstoel te sit as enigiemand voor hom nadat die raad en KSA se lede in September hul grondwet verander het sodat hy “ter wille van stabiliteit” ’n jaar langer kan aanbly. Hy is reeds sedert Februarie 2013 in dié posisie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.