Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'WB-besluit oor Amla nog nie geneem'

Eers wanneer Hashim Amla terug is van sy menslikheidsverlof – wanneer dit ook al gaan wees – sal daar ’n besluit oor sy potensiële deelname aan die Wêreldbeker (WB)-toernooi geneem word.

So het Ottis Gibson, die Protea-krieketspan se breier, Dinsdag bevestig.

Ottis Gibson, die Proteas se hoofafrigter. Foto: Gallo Images

Amla het op 1 Maart laas krieket gespeel aangesien hy tans met verlof is om sy siek pa by te staan. In sy afwesigheid het Reeza Hendricks, waarskynlik sy grootste mededinger om ’n plek in die Wêreldbeker-15-tal, weer in die T20-reeks teen Sri Lanka begin lopies aanteken.

Hoe die WB-groep daar gaan uitsien, is betreklik maklik om uit te pluis, behalwe vir een kwessie: Watter een van Aiden Markram, Hendricks en Amla gaan met Jan Tuisbly se karretjie ry?

Daar was ’n dag verlede week waar ek gewens het die Wêreldbeker-toernooi begin volgende week, want ons spelpeil en selfvertroue is so goed.

“Ek het vir ’n rukkie al ’n 15-tal in gedagte. Ons is omtrent 99.9% seker van die span wat onsin Engeland wil hê,” het Ottis Gibson, die Protea-breier, ná hul sege in die derde T20-wedstryd teen Sri Lanka in Johannesburg gesê.

Waar pas Amla dan in?

“Hashim is beslis nog deel van ons planne,” sê Gibson.

Hashim Amla stap teleurgesteld van die veld nadat hy sy paaltjie in die tweede toets teen Sri Lanka verloor het. Foto: Gallo Images

“Hy is op die oomblik by sy pa wat siek is en ons moet vir hom die tyd gee wat hy nodig het om by sy familie te wees. Ons sal nie weet wat die situasie is totdat iets gebeur nie. Wanneer hy terugkom, sal ons ’n besluit neem (oor of hy Wêreldbeker toe gaan, of nie).”

Gibson sê hy hou nou duimvas dat een van sy Protea-sterre nie ’n besering in die Indiese Premierliga opdoen nie.

Die Proteas speel nou eers weer op 24 Mei, wanneer hulle Sri Lanka in Cardiff in hul eerste van twee opwarmingswedstryde aandurf.

Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog begin op 30 Mei, wanneer hy Engeland in die openingswedstryd op die Oval in Londen aandurf.

Intussen is daar verskeie Proteas in die IPL in aksie, terwyl die res in die plaaslike eendag- en T20-reekse sal speel.

“Daar was ’n dag verlede week waar ek gewens het die Wêreldbeker-toernooi begin volgende week, want ons spelpeil en selfvertroue is so goed,” sê Gibson.

“Tog is daar ouens wat nou in die IPL speel en in die plaaslike reekse hier. Die boodskap aan hulle was om die groter prentjie in gedagte te hou. Al daardie ouens het fiksheidsprogramme gekry. Ons het ook aangedui hoeveel krieket ons van hulle verwag om te speel. Dit is om seker te maak dat wanneer ons op 12 Mei saamtrek vir ons oefenkamp, niemand skete het nie. Hopelik kom almal fiks terug.”

Ek dink jy moet by Wêreldbeker-toernooie kan aanpas. Jy kan nie dieselfde 11-tal vir elke wedstryd kies nie.

Gibson sê Suid-Afrika het sy wedstrydplan in die laaste paar maande verfyn en hy glo hulle is gereed vir die uitdagings wat die skouspel in Engeland gaan bied.

“Ek dink jy moet by Wêreldbeker-toernooie kan aanpas. Jy kan nie dieselfde 11-tal vir elke wedstryd kies nie. Ons het verskillende wedstrydplanne in plek, soos om byvoorbeeld met twee draaiers te speel. Ons het ook kolwers wat in verskillende posisies in die kolflys aangewend kan word,” sê Gibson.

“Ons het hard aan ons taktiese en tegniese planne geslyp, maar ook aan ons ingesteldheid en geestelike taaiheid.”

Meer oor:  Hashim Amla  |  Wêreldbekerkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.