Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
WB-groep: Markram ‘hoop’ nie, hy ‘dóén’

Hy hang beslis nie net rond en hoop hy word vir die Proteas se Wêreldbeker-groep gekies nie, hy doen álles in sy vermoë om die span te haal, sê Aiden Markram.

“Daar was ’n tyd toe dit regtig vir my belangrik was om in die Wêreldbeker-span te wees,” sê Markram.

“Maar wanneer jy ’n laagtepunt ervaar, kry jy ook kans om dinge in perspektief te sien.

Aiden Markram oefen Dinsdag sy veldwerk by St. Georgepark. Foto: Gallo Images

“Ek het besef dat dit nie die einde van die wêreld gaan wees as ek nie in die span is nie.”

Maar die jong kolwer gee ook toe dat dit “ ’n droom sal wees wat waar word” as hy wel die uitsoekspan haal.

“Ek doen my bes om die span te haal. Ek hang beslis nie net rond nie, maar dit sal nou vir my makliker wees om te verwerk as ek weggelaat word,” sê hy.

“Ek wil net hê die Proteas moet die Wêreldbeker gaan wen.”

Die afgelope paar weke het Markram beslis die nasionale keurders iets gegee om oor na te dink met sy briljante kolfwerk vir die Titans.

In die drie eendagwedstryde wat hy vir die Titans gespeel het, het hy tellings van 169, 139 en 85 aangeteken.

Ek moes eenvoudig meer tyd in die middel deurbring om daaraan te werk en dit het ek gelukkig reggekry.
Aiden Markram

Dit was beslis nie ’n verrassing dat hy weer opgeroep is vir die Proteas se laaste twee eendagwedstryde teen Sri Lanka nie.

Die eerste daarvan is Woensdag op St. Georgepark in Port Elizabeth.

Volgens Markram moes hy ’n paar verstellings aan sy spel en sy ingesteldheid maak om weer so goed op dreef te kom.

“Sedert ek weggelaat is uit die Proteas se groep, het ek net probeer om al my energie en positiewe gevoelens by die Titans in te gooi. Dis wat ek nou ook by die Proteas gaan probeer doen,” sê hy.

“Dit het vir my ’n tydjie gelede gevoel asof ek ’n paar ratte vooruit was wat my kolfwerk betref.

“Ek moes eenvoudig meer tyd in die middel deurbring om daaraan te werk en dit het ek gelukkig reggekry.”

Markram sê “as” hy Woensdag in die vierde eendagwedstryd teen Sri Lanka speelkans kry, sal hy probeer om nie oor spankeuses vorentoe te dink nie, maar net positief probeer speel.

“Dit gaan nie daaroor om elke wedstryd teen Sri Lanka te wen en hulle te verneder nie, dit gaan daaroor dat elke speler in die Proteas se span sy beste spel moontlik moet probeer lewer,” sê hy.

Op 3 Maart het Markram 139 lopies in ’n eendagwedstryd teen die Warriors gemoker en hy sê hy hoop die kragmeting met Sri Lanka word op dieselfde tipe kolfblad gespeel.

Proteas (uit): Faf du Plessis (k), Reeza Hendricks, Quinton de Kock, JP Duminy, Imran Tahir, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortje, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Dale Steyn, Rassie van der Dussen.

Sri Lanka (uit): Lasith Malinga (k), Avishka Fernando, Upul Tharanga, Niroshan Dickwella, Kusal Perera, Kusal Mendis, Dhananjaya de Silva, Thisara Perera, Akila Dananjaya, Angelo Perera, Oshada Fernando, Kamindu Mendis, Priyamal Perera, Isuru Udana, Vishwa Fernando, Kasun Rajitha, Lakshan Sandakan.

Begintyd: 13:00.

TV: SS 2 en SABC 3.

Meer oor:  Sri Lanka  |  St Georgepark  |  Eendagreeks  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.