Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
WB-krieket: Gunstelinge het voete van klei

Dit raak al moeiliker om ’n voorspelling te waag oor wie vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland gaan wen.

Die meeste kenners het aan die begin van die jaar saamgestem dat Engeland en Indië die twee spanne is wat die beste eendagkrieket die laaste 18 maande gespeel het en hulle was as die groot gunstelinge beskou.

Jos Buttler is een van Engeland se gevaarlike mokermanne. Foto: Getty Images

Engeland het immers op tuisbodem – waar die Wêreldbeker vanjaar gaan plaasvind – floreer in bekende toestande, terwyl Indië in Virat Kohli verreweg die wêreld se beste kolwer het.

Maar sedert hulle so heuning om die mond gesmeer is, het albei dié spanne die afgelope maand begin voete van klei wys.

Indië het Woensdag sy vyfde eendagwedstryd teen Australië in Delhi met 35 lopies verloor om die tuisreeks met 2-3 prys te gee. En dít boonop teen ’n Aussie-span sonder vier van sy beste spelers.

Die kolwers David Warner en Steve Smith dien steeds skorsings uit ná verlede jaar se balpeutery-skandaal in Kaapstad, terwyl twee van Australië se beste boulers, Mitchell Starc en Josh Hazelwood, nog sukkel met beserings.

Die Aussies, wat hoop om al vier dié spelers tot sy beskikking te hê wanneer die WB-toernooi op 31 Mei in Londen begin, het met hul reeksoorwinning in Indië natuurlik ’n duidelike boodskap aan die res van die krieketwêreld gestuur.

Hy mag wel gesukkel het in dié formaat, maar noudat die begin van die glanstoernooi net meer as 11 weke weg is, is die Aussies weer op hul stukke – net op die regte tyd.

Hulle het vier van die laaste vyf WB-toernooie gewen en weet dus hoe om daardie druk te bowe te kom.

Terwyl Engeland en Indië wel steeds gunsteling-etikette om die nek het, kan enige van Australië, Nieu-Seeland, Pakistan, die Wes-Indiese Eilande en Suid-Afrika op sy dag met dié spanne afreken. Die Windies het immers hul onlangse reeks teen Engeland met 2-elk gedeel.

Virat Kohli bal al lankal vuis vir Indië. Foto: Getty Images

Engeland het in die laaste drie jaar sy hele ingesteldheid rondom eendagkrieket verander onder leiding van die Australiese afrigter, Trevor Bayliss. Waar die Britte altyd baie konserwatief gespeel het en meestal op sy boulers staatgemaak het, het hy nou by uitstek ’n kolfspan geword.

Spelers soos Jos Buttler, Ben Stokes, Eoin Morgan en Jason Roy klim van meet af onder die boulwerk in en hou aan om die grenstou aan te val, al tuimel die paaltjies.

Engeland het eendagkrieket in ’n spel verander waar tellings van 300+ nou baansyfer is en al die ander spanne gaan moet aanpas.

Dit is straks ’n probleem vir Ottis Gibson se Suid-Afrikaners.

Suid-Afrika het die laaste ses maande eendagreekse teen Australië, Pakistan en Sri Lanka gewen, maar daar is genoeg onsekerheid oor die samestelling van die Proteas se kolflys dat die span met min verwagtinge in Engeland gaan opdaag.

Suid-Afrika maak meestal staat op sy boulaanval van Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Dale Steyn en Imran Tahir om wedstryde te wen.

Dit voorspel ’n interessante tweestryd wanneer Engeland en Suid-Afrika slaags gaan wees in die eerste wedstryd van die toernooi op 31 Mei op die Oval in Londen.

Meer oor:  Wêreldbekerkrieket  |  Indië  |  Engeland  |  Australië  |  Wb-Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.