Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
WB vir vroue kry ook Covid-19-opslagbal

Skaars het die Protea-vrouekrieketspelers onlangs hul terugkeer tot die oefenveld gemaak of hulle word vir ’n lastige ses uit die parkie geslaan – die Wêreldbeker-toernooi wat vroeg in 2021 moes plaasvind, is met ’n jaar uitgestel.

Dané van Niekerk speel ’n omgekeerde veeghou gedurende ’n oefenwedstryd vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het die afgelope naweek aangekondig dat die toernooi, wat op 6 Februarie in Nieu-Seeland moes begin, nou eers in 2022 sal plaasvind.

Sedert die T20-WB vroeër vanjaar in Australië geëindig het, was daar nog geen internasionale vrouewedstryde moontlik nie, so die besluit kom seker nie as ’n te groot verrassing nie.

“Daar is geen internasionale vrouekrieket gespeel sedert die T20-WB nie en weens die wisselende impak wat Covid-19 wêreldwyd het, gaan dié situasie vir verskeie spanne vir die res van die jaar geld,” sê Manu Sawhney, uitvoerende hoof van die IKR, volgens ’n verklaring.

“Om die toernooi met 12 maande aan te skuif, gee al die spanne wat deelneem die geleentheid om genoeg krieket te speel voor die kwalifiserende toernooi en voor die Wêreldbeker – iets wat die integriteit van die toernooi sal beskerm.”

Hilton Moreeng, afrigter van die Protea-vrouespan, meen die uitstel van die WB-toernooi kan sy span die geleentheid gee om beter voorbereid te wees, gegewe dat geen vrouekrieket tans gespeel word nie. Foto: Gallo Images

Nadat Suid-Afrika vroeër vanjaar met uithalerspel die halfeindronde van die T20-WB in Australië gehaal het, was vrouekrieket skielik op almal se lippe. Daar is dus groot verwagtinge van Dané van Niekerk, die kaptein, en haar spanmaats gekoester om op daardie vertoning te verbeter in Kiwi-land.

Juis daarom, sê Hilton Moreeng, afrigter van die Protea-vrouespan, is dit jammer dat die toernooi uitgestel is, maar dat dit allermins ’n doodskoot vir die uitbou van die spel se ondersteunersbasis is.

“Dit is beslis vir ons almal ’n teleurstelling, veral omdat ons besig was om (vir die WB) voor te berei. Maar alles inaggenome is dit die regte besluit.

“Daar is net te veel onsekerheid, maar die besluit is nie in ons hande nie. Nog ’n jaar sal ons dalk nog meer tyd gee om beter voor te berei,” sê Moreeng.

Die vroue het steeds ’n geskeduleerde toer wat in September na Engeland moet plaasvind – waaroor daar steeds onsekerheid bestaan of dit sal voortgaan. Dit sou aanvanklik ’n driehoekige reeks gewees het, wat Indië sou insluit, maar dié span het hom reeds vroeër daaraan onttrek.

Dané van Niekerk toe die nasionale vrouespan onlangs die eerste keer in maande in spanverband terug op die oefenveld was. Foto: Gallo Images

“Dit sal belangrik wees dat ons in die komende maande toere kry om soveel speelkans as moontlik vir ons spelers te bewerkstellig. Ons sal dit doen sodra ons goedkeuring kry om oorsee te kan deelneem.

“Dit (toere) sal belangrik wees, juis omdat ek dink die span nou die kruin van sy spelpeil bereik – en dit sal ook help om ondersteuners se belangstelling te behou,” sê Moreeng.

“Ons sal in die komende weke sit en vergader en kyk waar ons speelkans kan kry – veral met plaaslike krieket wat ook nog nie hervat het nie. Almal is maar ’n bietjie huiwerig, maar ek dink in die komende maande sal dinge beter gaan.”

• Suid-Afrika, Australië, Indië en Engeland, tesame met die gasheer, Nieu-Seeland, is reeds verseker van deelname aan die WB-toernooi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.