Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wees fiks of word gepos – Boucher
Sisanda Magala sou vroeër vanjaar sy Protea-buiging gemaak het, maar het nie aan die span se fiksheidsvereistes voldoen nie. Foto: Gallo Images

Mark Boucher het geen genade met onfikse krieketspelers nie.

Vra maar vir Sisanda Magala, wat vroeër vanjaar sy Protea-buiging sou maak, maar uit die span gelaat is omdat hy nie aan die span se fiksheidstandaarde kon voldoen nie.

Selfs nou, met die Protea-spelers soos die res van ons agter slot en grendel tot einde April weens die Covid-19-pandemie, soek Boucher g’n verskonings vir gebrekkige fiksheid nie.

Só ernstig is die Protea-afrigter daaroor, dat spelers nou selfs kontraktueel daartoe verbind is.

“Ons gaan nuwe fiksheidsklousules by kontrakte inwerk, want jy moet fiks wees. Ons het onlangs gesien spelers wat nie fiks genoeg is nie, word nie gekies nie,” sê Boucher.

Magala word baie hoog aangeslaan as veral ’n doodsnikbouler. Hy was by die eendag- en T20-groep vir die reekse teen Engeland ingesluit en sou gewis sy kans gekry het, maar kon nie sy fiksheidstoetse slaag nie.

“Daar is geen verskonings nie. Hulle is professioneel genoeg om fiks te bly, al is dit in moeilike omstandighede.

“Ons het oefenprogramme uitgestuur vir die spelers om fiks en sterk te bly by hul huise. Dit tel nie net vir die gekontrakteerde spelers nie, maar vir 30, 40 spelers wat ons geïdentifiseer het en wat aan die deur klop om by die Proteas of SA A-span ingesluit te word.

“Mense kan dalk sê dis moeilik, maar die spelers moet professioneel wees. Ons gaan toetse doen ná die inperkingstydperk. Die spelers weet dit.”

Mark Boucher, die Protea-afrigter, gaan nie spelers duld wat onfiks is nie. Foto: Gallo Images

Hy sê behalwe vir die uitdagings wat oefening betref, het die staat van inperking weens die koronavirus nie juis hul planne ontwrig nie.

“Ons was gelukkig in die sin dat ons in elk geval ’n blaaskans in dié tyd sou geneem het,” sê Boucher.

“Die plan was om die spelers aftyd te gee, om dalk ’n bietjie te reis en tyd saam met hul families deur te bring. Hulle bring nou gewis tyd saam met hul gesinne deur, maar kan ongelukkig nie reis nie.

“Dit is ’n geleentheid vir sekere spelers om van hul skete af te skud. Die eerste twee weke was wel belangrik dat die ouens net kon uitrus.”

Die Proteas se volgende toer is vir Junie geskeduleer, wanneer hulle veronderstel is om na Sri Lanka te reis vir ses witbalwedstryde. ’n Toer in die Karibiese Eilande begin ook met ’n toets teen die Windies in Augustus.

Om hiervoor voor te berei, was daar ’n oefenkamp in April in Oudtshoorn beplan wat nou uiteraard nie kan plaasvind nie.

Nou beplan Boucher maar aan die pad vorentoe.

“Ek het ’n paar konferensie-oproepe met Krieket Suid-Afrika (KSA) gehad om te kyk hoe ons vorentoe kan beweeg. Ons doen maar wat ons kan,” sê hy.

“As die spelers nie kan speel nie, word hulle lekker opgesweep vir wanneer hulle weer kan speel.”

Boucher sê hyself het die laaste twee weke nie té veel gedoen nie.

“Ek het my motorhuis skoongemaak en probeer ook maar om fiks te bly, maar dit was nie maklik nie,” sê hy.

“Ek het planne gehad om dalk ’n bietjie weg te gaan saam met my gesin en dalk ’n bietjie gholf te gaan speel, of bos toe te gaan.

“Ons het ’n paar aanbouings by die huis gedoen, so dit was goed om ’n bietjie tyd by die huis deur te bring. Ek het ’n seun wat net onder twee jaar oud is, so hy het my en my vrou besig gehou.”

Meer oor:  Koronavirus  |  T20  |  Toetskrieket  |  Mark Boucher  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.