Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wen nie belangrikste in dié T20-reeks

Dit was in die tweede wedstryd, teen Bangladesj op die Oval in Londen, wat ’n mens dit vir die eerste keer kon begin sien.

Skouers het begin hang, veldwerkers het ongeïnteresseerd begin voorkom en by die boulers was daar min tot geen intensiteit te bespeur nie.

Quinton de Kock, hier in die WB-toernooi teen Bangladesj in aksie, voer die Proteas Sondag teen Indië aan. Foto: Getty Images

Op die mediabank, op Sondag 2 Junie, met die Wêreldbekertoernooi nog in sy opwindende babaskoene, het die Suid-Afrikaanse joernaliste na mekaar gekyk en gevra wat op dees aarde met die Proteas aangaan.

Hulle was veronderstel om ná hul nederlaag drie dae tevore in die openingswedstryd teen Engeland opgesweep te wees om hul WB-veldtog in die vinnige baan te kry. Hulle was veronderstel om vuur en vlam te wees en behoorlik onder die Tiere van Bangladesj in te klim.

Dít het nie gebeur nie. Hulle het verloor en die ganse veldtog het ontspoor nog voor dit nog begin het.

Ná die tyd is Faf du Plessis, die kaptein, gevra of die span enigsins omgee. Hy het volgehou dat hulle wel omgee en dat tegniese kwelpunte, liewer as ’n tekort aan motivering of passie, hulle in die steek gelaat het.

Faf du Plessis het ná hierdie WB-wedstryd, die een teen Bangladesj, volgehou die Proteas se vaardighede, en nie hul ingesteldheid nie, laat hulle in die steek. Foto: Getty Images

Later in die toernooi het die intensiteit so effens begin optel, maar selfs vanuit die Protea-kamp is erken dat daardie element vroeër ontbreek het. Dit was te laat. Almal weet wat die gevolg was: ’n WB-ramp, wat die vorige afrigtingspan hul werk gekos het.

Nou, Sondag in die eerste T20-wedstryd teen Indië in Dharamsala, breek ’n nuwe era vir die Proteas aan.

Die deeltydse kolfafrigter, Lance Klusener, was uitgesproke oor wat hy meen die fout by die WB was.

“Van buite af het dit gelyk na ’n gebrek aan intensiteit wat die kolwers gekortwiek het,” het hy kort voor die span se vertrek na Indië gesê.

Kan Lance Klusener by die T20-reeks in Indië help om vuur onder die Proteas te maak? Foto: Gallo Images

Hy kon sien wat almal sien. Die vraag is: Kan Klusener, Enoch Nkwe, die waarnemende spandirekteur, en Quinton de Kock, die T20-kaptein vir dié reeks, daardie Protea-vuur weer aangesteek kry?

Dit is ’n jong Protea-span, wat sonder die gereelde kaptein, Du Plessis, oor die weg moet kom. Hulle kom boonop teen ’n sterk Indiese span te staan.

Virat Kohli, Rohit Sharma, Shikhar Dhawan en Hardik Pandya sal almal teenwoordig wees. Dit is ’n groot taak om Indië in Indië te pak.

In T20-wedstryde is die speelveld gewoonlik darem meer gelyk en een groot individuele vertoning kan ’n wedstryd swaai.

Protea-ondersteuners sal waarskynlik nederlae kan aanvaar, mits die span goed speel.

Oorwinnings is belangrik en lekker, maar hierdie T20-reeks gaan minder oor wen as wat dit daaroor gaan om te wys watter rigting die span nou gaan inslaan.

Mag dit asseblief tog net met meer intensiteit en passie as drie maande gelede op die Oval gedoen word.

Spanne

Indië (uit): Virat Kohli (k), Rohit Sharma (o-k), Shikhar Dhawan, KL Rahul, Shreyas Iyer, Manish Pandey, Rishabh Pant, Hardik Pandya, Ravindra Jadeja, Krunal Pandya, Washington Sundar, Rahul Chahar, Khaleel Ahmed, Deepak Chahar, Navdeep Saini.

Suid-Afrika (uit): Quinton de Kock (k), Rassie van der Dussen (o-k), Temba Bavuma, Junior Dala, Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, David Miller, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, George Linde.

  • TV: 15:20 (op SS 2).

Meer oor:  Indië  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.