SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Krieket
Wie kies die Protea-toetsspan?

Die Proteas speel oor minder as vyf weke in die eerste toets teen Engeland . . . maar daar is niemand om Suid-Afrika se toetsspan te kies nie.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het twee weke gelede by die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park onderhoude met verskeie kandidate gevoer vir die poste van direkteur van krieket en sameroeper van die keurkomitee.

Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Dit is welbekend dat Graeme Smith, Corrie van Zyl, Hussein Manack en Dave Nosworthy die kandidate vir die direkteur van krieket-pos was, met Smith wat hom verlede week aan die wedloop onttrek het.

Netwerk24 verneem Linda Zondi, Patrick Moroney en Monde Zondeki was drie van die kandidate om die keurderbaas te word. Na wat verneem word, gaan Zondi egter nie weer in die pos aangestel word nie.

Zondi was die vorige keurderbaas en het gereeld sy rug styf gemaak wanneer Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, by spankeuses wou inmeng.

Moroe wou vir homself op ’n vergadering op 1 Februarie die reg toeëien om spankeuses te veto. Rapport het destyds berig Moroe het gereeld vir Zondi gebel, maar Zondi het hom glo by meer as een geleentheid teen Moroe verset.

Linda Zondi, die vorige sameroeper van die keurkomitee. Foto: Gallo Images

Zondi wou destyds nie beweringe bevestig of ontken dat Moroe probeer het om onbehoorlike druk uit te oefen wat spankeuses betref nie.

“As die sameroeper van die keurkomitee het ek die druk geabsorbeer. Ek neem besluite deur druk af te weer om die Proteas te beskerm,” het Zondi destyds aan Rapport gesê.

Zondi is saam met die hele vorige afrigtingspan en keurpaneel, bestaande uit Lux Qoboshiyane, Errol Stewart, Ottis Gibson, Manack en Zondi, die trekpas gegee ná die Wêreldbeker-misoes.

Met Zondi wat waarskynlik nie weer die pos gaan kry nie, kan Moroney, die Jozi Stars se keurderbaas, of die voormalige Protea-snelbouler Zondeki met dié pos toevertrou word.

Sedert Zondi se vertrek het Van Zyl, as die waarnemende direkteur van krieket, ook as tussentydse keurbaas gedien.

Maar Van Zyl is einde Oktober geskors hangende ’n ondersoek na beweerde pligsversuim oor ’n beeldregte-kwessie tussen KSA en die spelersvereniging, Saca.

Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan – wie hou spelers op plaaslike vlak dop?

“Ons het ’n bevoegde span wat daaroor verantwoordelik is om spelers op verdienste te kies,” sê Thamie Mthembu, KSA se mediabestuurder.

Toe hy gevra is wie hierdie “span” is – met ander woorde die waarnemende keurders – was Mthembu se raaiselagtige antwoord: “In die belang van kollegialiteit, samehorigheid en om te werk na ’n gesamentlike doelwit, kan ons nie ’n spesifieke naam verskaf nie.”

Hy kon ook nie almal op hierdie “span” se name lys nie.

“In die belang daarvan om ons werknemers te beskerm, gaan ons ongelukkig nie dit doen nie.”

Hussein Manack (middel) in gesprek met Ottis Gibson, die voormalige Protea-afrigter, en Faf du Plessis, die kaptein. Manack was vir sewe jaar ‘n nasionale keurder. Foto: Getty Images

Mthembu het die hoop uitgespreek dat ’n aankondiging binnekort gedoen gaan word. “Daar is ’n klein kans dat dit voor die einde van die week aangekondig gaan word.”

KSA hoop om dan ook aan te kondig wie die nuwe direkteur van krieket gaan wees.

Met Smith wat hom aan die wedloop onttrek het, word Van Zyl en Manack as die sterkste kandidate gesien – selfs al is Van Zyl tydelik geskors.

Manack het die laaste week op die rekord met Sport24 en IOL gepraat.

Die direkteur van krieket se eerste taak sal wees om ’n spandirekteur vir die Proteas aan te stel. Enoch Nkwe beklee dié rol in ’n waarnemende hoedanigheid. Manack is ’n voorstaander van Nkwe.

“Ek dink Enoch beskik oor baie van die nodige eienskappe,” het Manack aan Sport24 gesê.

“Ek dink hy is ’n goeie mensemens en hy het sover baie goed gevaar.

“Wie ook al jy daar sit, dit gaan belangrik wees dat hy goeie ondersteuning het.”

Meer oor:  Graeme Smith  |  Krieket  |  Hussein Manack  |  Thabang Moroe  |  Linda Zondi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.