Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wie moet Faf du Plessis se skoene vul?

Daar is ’n Faf-leemte in die Protea-toetsspan met twee ooglopende kandidate om dit te vul.

Wanneer Suid-Afrika op 10 Junie in St. Lucia aantree vir sy eerste toetswedstryd teen die Wes-Indiese Eilande, sal hulle ná bykans ’n dekade ’n span sonder Faf du Plessis moet begin bou.

Kyle Verreynne se spelpeil was skitterend in die onlangse meerdagreeks. Foto: Gallo Images

Sedert Du Plessis sy toetsbuiging in 2012 gemaak het, het hy in 69 van die Proteas se 72 toetse gespeel.

Hy was in Februarie die laaste lid van ’n goue generasie Proteas om uit toetskrieket te tree.

’n Nuwe era begin op 10 Junie, onder die kapteinskap van Dean Elgar.

Keegan Petersen en Kyle Verreynne kan die twee kandidate wees om Du Plessis se skoene vol te staan.

Rassie van der Dussen is die Proteas se nuwe voorkeur op nr. 3 en sal saam met Elgar en Aiden Markram die topdrie vorm.

Dan het die Protea-keurders twee opsies. Keegan Petersen kolf op nr. 3 vir die Dolphins en sal maklik op nr. 4 kan instap, met Temba Bavuma en Wiaan Mulder of Quinton de Kock op nr. 5 en nr. 6.

Die ander opsie is om Bavuma met die belangrike nr. 4-posisie toe te vertrou, en dan vir Verreynne op nr. 5 te laat kolf – die posisie waarin hy onlangs vir die Cobras uitgeblink het.

Aangesien De Kock as paaltjiewagter gaan diens doen, kan Verreynne selfs op nr. 4 oorweeg word, maar dít alles kan uitgepluis word sodra die Proteas op hul voorkeurkandidaat tussen Verreynne en Petersen besluit het.

Albei dié kolwers het ’n sterk saak uit te maak.

Keegan Petersen klop al geruime tyd lank aan die Protea-deur. Foto: Gallo Images

Petersen is al lank op die Proteas se radar. Hy is vroeër die seisoen vir die toetsgroep vir die tuisreeks teen Sri Lanka gekies, maar moes hom onttrek nadat hy positief getoets is vir die koronavirus.

Hy is ook aan die einde van 2019 as bykomende kolwer betrek vir die reeks teen Engeland nadat Markram sy vinger beseer het, maar het nie speelkans gekry nie.

Hy het hom as ’n bestendige kolwer bewys nadat hy in die 2018-’19-seisoen die voorste lopiemaker in die plaaslike meerdagreeks vir die Knights was.

Hy het hom sedertdien by die Dolphins aangesluit.

Aan die begin van die 2020-’21-seisoen het hy 173 lopies teen die Lions gemoker.

Petersen (27) is ’n geduldige kolwer, wat daarvan hou om homself in te grawe. Hy het ’n eersterangse kolfgemiddeld van 40.94 ná 97 wedstryde en het reeds 16 honderdtalle en 26 vyftigtalle aangeteken.

Op sy beurt word Verreynne (24) gesien as een van die opwindendste jong spelers in Suid-Afrika.

Hy het verlede jaar sy eendagbuiging vir die Proteas gemaak. Al was hy ook deel van die toetsgroep teen Sri Lanka, het hy nog nie sy toetsdebuut gemaak nie.

Sy onlangse meerdag-spelpeil is skitterend – in sy laaste twee wedstryde vir die Cobras in Maart het hy 216* en 109 gemoker.

Verreynne het hope X-faktor. Ná 45 eersterangse wedstryde spog hy met ’n skitterende gemiddeld van 56.32. Hy het reeds vyf honderdtalle en 21 50-talle in die formaat geslaan.

Buiten dié twee, is Raynard van Tonder ook nog ’n kandidaat. Hy is wel nie in die groep vir die Windies-reeks nie, maar sal vir SA A teen Zimbabwe speel.

As hy daar goed vertoon, het die keurders minstens drie baie goeie keuses om Du Plessis se leemte op lang termyn te vul.

Meer oor:  Krieket  |  Kyle Verreynne  |  Toetskrieket  |  Windies  |  Proteas  |  Faf Du Plessis  |  Keegan Petersen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.