Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Witbal-afjak laat Duanne verkas

Nie geld nie, maar ’n gebrek aan geleenthede in die verkorte weergawes van die spel blyk die werklike rede te wees vir Duanne Olivier se besluit om ’n Kolpak-kontrak van drie jaar te sluit.

Olivier het Dinsdag op Instagram bekend gemaak dat hy voortaan sy krieket vir Yorkshire in die Engelse graafskapreeks gaan speel. Hy het dit in sy inskrywing as die “taaiste besluit van my lewe” beskryf.

Duanne Olivier het vandeesweek geskok met sy aankondiging op Instagram dat hy ’n Kolpak-ooreenkoms met die Engelse graafskapspan Yorkshire gesluit het.Foto: GALLO IMAGES

Bronne naby aan die speler het vandeesweek gesê dat hy omgekrap is dat hy die etiket as ’n spesialis-toetsbouler gekry het en daarom min internasionale geleenthede in eendag- of T20-krieket kry. Die besluit om vir Yorkshire te teken is sy poging om self beheer oor sy aspirasies in witbalkrieket te neem.

Olivier meen hy kry hier nie genoeg geleenthede om hom te bewys in die verkorte weergawes van die spel nie. Hy het nog net in twee eendagwedstryde vir die Proteas gespeel en het nog nie op T20-vlak die Groen-en-goud gedra nie.

Sy blootstelling aan T20-ligas elders ter wêreld is gevolglik ingeperk.

Mense naby aan hom wys daarop dat hy goed gevaar het in die Mzansi-superliga (MSL), met die Jozi Stars wat die titel gewen het. Hy was saam met Kagiso Rabada en Simon Harmer in die boulaanval, maar tog moet hy die frustrasie verduur dat sy geleenthede in die verkorte weergawes van die spel beperk word.

“Krieket Suid-Afrika (KSA) moet sy nommers laat klop,” het ’n bron gesê. “Hulle wil dit nie in die toetse doen nie, omdat dit daar onder die vergrootglas gaan wees, so hulle gee spelers soos Junior Dala en Lutho Sipamla geleenthede in die T20-wedstryde.

“Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink Sipamla is ’n opkomende ster, maar daar is geen manier waarop hy beter is as Olivier nie. Olivier is op spelpeil tans een van die beste boulers ter wêreld.”

Terwyl KSA in elke formaat kwota-vereistes in gedagte moet hou, is sy ongelukkigheid oor die geval van Olivier aanvoelbaar.

Die beheerliggaam het die ongewone stap gedoen deur Dinsdag ’n nuusverklaring uit te reik waarin Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, en Ottis Gibson, nasionale afrigter, aangehaal is dat hulle “teleurgesteld” is in Oliver se besluit, veral in die lig daarvan dat die partye dwarsdeur die seisoen nog in gesprek is.

Terwyl daar etlike vergaderings tussen die speler se agent, Weber van Wyk, en KSA was, blyk geld nie ter sprake te wees nie.

’n Bron in die binnekring het die volgende aan Rapport gesê: “Wanneer jy aansporings, die winsdeelskema en KSA se bonusse optel, is die twee salarisse min of meer dieselfde. Die bespiegeling dat Duanne aansienlik meer as ’n Kolpak-speler gaan verdien, is verkeerd.”

Van Wyk het gesê dat sy kliënt in vandeesweek se verklaring alles gesê het wat hy wou, en dat hy geen verdere kommentaar sal lewer nie.

Oor die geldkwessie het Olivier op Instagram die volgende te sê gehad: “Die besluit is op meer as net geld gegrond. Vir my loopbaan en alles wat ek wil bereik, glo ek dit is die beste vir my.”

KSA se teleurstelling is verder verdiep omdat die Memorandum van Verstandhouding tussen hom en die SA Spelersvereniging (Saca) juis mik om ’n herhaling van die Kolpak-situasie met Rilee Rossouw en Kyle Abbott van ’n paar jaar gelede te voorkom.

* “Spelers onderhandel nou individueel met KSA. Die betrokke spelers en hul agente sal met KSA gaan praat voordat kontrakte aangebied word,” sê Saca se uitvoerende hoof, Tony Irish.

“Iemand soos Corrie van Zyl sal met die betrokke speler oor KSA se visie vir hom gesels en wat die implikasies van daardie visie sal wees in terme van inkomste.”

KSA is nie Olivier se enigste teleurgestelde werkgewer nie.

Johan van Heerden, uitvoerende hoof van die Knights, wys daarop dat Olivier saam met Keegan Rafferty en Corné Dry beurse van drie jaar by Remgro ogekry het in ’n skema wat in 2012 van stapel gestuur is.

“Ons het ’n puik verhouding deur daardie projek gehad en baie belê,” het Van Heerden gesê. “Ek sou dit waardeer het as Duanne en sy agent (Van Wyk) ’n afspraak met ons gemaak en kom gesels het.

“Ons het Duanne destyds by die Coca-Cola week raakgesien. Ons stap al ’n lang pad saam."

Meer oor:  Duanne Olivier  |  Kontrak  |  Yorkshire  |  Kolpak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.