Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Witjasse se foutbal-blapse frustreer

In die eerste toets was dit Jofra Archer wie se voet algaande oor die foutballyn geskuif het. In die tweede toets het eers Kagiso Rabada en daarna Stuart Broad en Ben Stokes hulle herhaaldelik daaraan skuldig gemaak.

En die skeidsregters – Chris Gaffaney van Nieu-Seeland en die Aussie Paul Reiffel in die eerste toets, Reiffel en Kumar Dharmasena van Sri Lanka in die tweede een – staan daar soos standbeelde.

Engeland se Stuart Broad praat met die skeidsregter Paul Reiffel. Broad het Rassie van der Dussen op dag twee van die tweede toets op Nuweland van ’n foutbal af uitgekry. Foto: Gallo Images

Die chroniese onvermoë om foutballe te roep, is een van verskeie frustrerende witjas-blapse wat in die huidige toetsreeks tussen Suid-Afrika en Engeland gesien word.

In die huidige toets op Nuweland het Rabada in Engeland se eerste beurt ’n paaltjie met ’n foutbal gekry. Later is daar op die kassie gewys hy het verskeie foutballe afgestuur voor die een wat vir Ollie Pope “uitgekry” het. Die skeidsregters het hom net nie daarvoor gestraf nie.

In Suid-Afrika se kolfbeurt was dit presies dieselfde storie met Broad. Hy het Rassie van der Dussen laat uitvang en soos ’n konyn rondgespring ter viering van dié paaltjie, net om met sy hande voor sy oë ’n gat te soek om in te verdwyn toe die kykweer wys sy voet het, vir die soveelste keer, oor die lyn gekruip.

Albei spanne sal voel hulle word van waardevolle ekstra lopies beroof. Broad het in ’n stadium op dag twee meer as tien foutballe in ’n rapsie meer as ’n sessie geboul wat nie geroep is nie.

Die voormalige Suid-Afrikaanse toetsskeidsregter Barry Lambson is nie beïndruk met die aantal foutballe wat misgekyk word nie.

“Hulle moet dit raaksien en roep.

Soms kan jy een wat net effens oor die lyn is, laat gaan. Maar sulke groot foutballe moet geroep word.
Barry Lambson

,” sê Lambson.

Hy het wel ’n klein mate van simpatie. Ondersteuners wat op die televisie kyk en kykweers van die foutballe sien, mag dalk dink dis maklik om dit raak te sien. Lambson sê dis egter nie altyd die geval nie.

“Sommige boulers skuifel hul voete, so dit kan moeilik wees om raak te sien. Tog, ’n goeie skeidsregter sal dit raaksien en dit roep.”

Skeidsregters is deesdae boonop onder bykomende druk omdat spelers hul beslissings kan verwys na ’n TV-skeidsregter. Die witjasse wil dus nie ’n verkeerde beslissing maak wat omgekeer kan word nie. Is dit dus moontlik dat hulle meer aandagtig na die kolwer kyk om been-voor-paaltjies en buite- en binnerandjies raak te sien, as na die foutballyn?

“Dit is moontlik, maar gewoonlik sal ’n skeidsregter eers vir die foutbal kyk en die bal daarna volg.”

In dié toetsreeks was daar voor Suid-Afrika se tweede beurt in die tweede toets reeds 15 verwysings, waarvan agt suksesvol was – so die skeidsregters beleef nie ’n watwonderse reeks wat hul besluitneming betref nie.

“Om ’n skeidsregter te wees is moeilik, veral op boulersvriendelike blaaie. Daar is ook soveel verwysings en kykweers dat die druk hoog is.

“Jy kan aan hul lyftaal sien die skeidsregters hou nie daarvan as die kameras op hulle gerig is en hulle ’n beslissing moet omkeer nie.”

Die Protea-spanbestuur was in die eerste toets boonop die josie in vir Reiffel nadat Archer twee “beamers” – volballe wat op die kolwer se kop afpyl – agtereenvolgens afgestuur het, maar net die eerste een as foutbal geroep is. Reiffel het sy arm begin uitsteek om die tweede een te roep, maar dit toe ná Engelse protes teruggetrek. As die foutbal tereg toegeken is, sou Archer nie weer in die toets kon boul nie.

Om druk van die skeidsregters te verlig, gaan daar in vanjaar se Indiese Premierliga (IPL) ’n skeidsregter wees wat uitsluitlik vir foutballe kyk. Lambson het sy bedenkinge hieroor.

“Hulle kan dit seker doen, maar dit kan dalk baie tyd mors. Behalwe as die televisieskeidsregter in die skeidsregter se oor fluister dat hy ’n foutbal moet roep.”

Meer oor:  Stuart Broad  |  Toetskrieket  |  Skeidsregters  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.