Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Witvarings ruk Engelse terug aarde toe

Heather Knight, die kaptein van Engeland se vrouekrieketspan, sê haar span sal lesse uit hul nederlaag teen Nieu-Seeland moet leer, nadat die Kiwi’s die derde en laaste eendagwedstryd Sondag in Dunedin met sewe paaltjies gewen het.

Amelia Kerr het Sondag gemaai onder die boulers in Nieu-Seeland se laaste eendagwedstryd teen Engeland.Foto: Getty Images

Engeland het die reeks vooraf reeds met 2-0 beklink, maar het die kans om skoonskip te maak uit sy hande laat glip.

Engeland is in sy kolfbeurt vir 220 lopies uitgehaal nadat Tammy Beaumont ’n onoorwonne 88 lopies aangeteken het.

Amelia Kerr (4/42) was die Witvarings se beste bouler.

Nieu-Seeland was op 15/2 in die moeilikheid nadat Natalie Dodd en Hayley Jensen hul paaltjies verloor het, maar Kerr en Amy Satterthwaite het met ’n hoogste vierdepaaltjie-vennootskap van 172 lopies die beheer uit Engeland se hande geruk.

Satterthwaite het ’n onoorwonne 119 lopies gemoker en Kerr 72 van net 88 balle om die oorwinning te verseker.

Satterthwaite het ook die 4 000-lopiekerf verbygesteek.

“Ek is beslis gefrustreerd,” het Knight aan Nieu-Seeland Krieket gesê.

“Ek glo ons het 30 lopies te min aangeteken. Die kolfblad was ’n bietjie stadig en ek dink die Kiwi’s het briljant geboul, veral (Hannah) Rowe en (Sophie) Devine, wat vroeg ingespan is.

“Ek en Tammy het baie gesukkel om deur te druk. Ek was gefrustreerd en toe ek uit is, het dit gevoel asof ons net aan die gang gekom het.

“Die positiewe is dat dit ’n leerproses vir die span was. As ’n gevestigde kolfeenheid, met die blad wat ’n bietjie stadig was, moes ons by 250, 260 lopies gedraai het.”

Die nederlaag het ook ’n einde gebring aan Engeland se segetog. Hulle het hul laaste tien wedstryde voor Sondag s’n gewen.

Knight sê egter hulle het meer uit die nederlaag geleer as wat hulle uit ’n oorwinning sou.

“Ons wou graag aanhou wen, maar ons het meer uit die wedstryd geneem as byvoorbeeld die eerste twee wedstryde. Dis positief vir wat aanstaande jaar op ons wag.”

Dit was Nieu-Seeland se eerste oorwinning in sy laaste 12 wedstryde en ook die eerste vir Sophie Devine as eendagkaptein sedert sy verlede jaar oorgeneem het by Satterthwaite, wat van kraamverlof af teruggekeer het. – TeamTalk

TELKAART

Meer oor:  Vrouekrieket  |  Nieu-Seeland  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.