
Laura Wolvaardt. Foto: Gallo Images
Laura Wolvaardt, aanvangskolwer van die Suid-Afrikaanse vroue-krieketspan, het met twee plekke verbeter en beklee nou gesamentlik die sewende plek – haar beste posisie nog – op die eendagranglys.
Die 21-jarige Wolvaardt se 125 lopies in drie wedstryde was die meeste in die eendagreeks van drie wedstryde teen Pakistan wat Suid-Afrika met 3-0 in Durban gewen het.
Die veelsydige Marizanne Kapp was net in die eerste twee wedstryde betrokke en het met vier plekke verbeter tot 22ste onder die kolwers.
Die aanvangsbouler en Speler van die Reeks, Shabnim Ismail, beklee steeds die vierde plek onder die boulers. Pakistan se Diana Baig het in die laaste wedstryd op haar vorige beste verbeter en het met haar vier paaltjies met nege – die meeste in die reeks – geëindig. Sy het van 40ste tot 35ste verbeter. – Sportredaksie