Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Zoeloe: ‘Proteas g’n afrondingskool’
Lance Klusener sal die Proteas met hul kolfwerk help tydens die drie T20-wedstryde in Indië later vandeesmaand. Foto: Gallo Images

Lance Klusener sal graag op ’n voltydse grondslag as ’n hulpafrigter by die Proteas betrokke wil wees.

Dié voormalige veelsydige speler is as die kolfafrigter aangestel vir die Proteas se wegreeks van drie T20-wedstryde later vandeesmaand teen Indië.

Toe Krieket Suid-Afrika (KSA) hom genader het, het hy homself reeds tot ander verpligtinge verbind en sal hy gevolglik nie die span bystaan vir die toetsreeks teen Indië in Oktober nie. Maar Zoeloe, soos hy in sy speeldae bekend gestaan het, hoop nie dit is sy laaste proesel van Protea-krieket as afrigter nie.

“Ek is seker ek sal in Indië met Corrie (van Zyl, KSA se waarnemende direkteur van krieket) praat, maar ek het ander verpligtinge tot omtrent Februarie,” het Klusener Woensdag in Pretoria gesê.

“Maar as jou land roep, dan roep jou land. Daar is niks wat in die pad daarvan kan staan nie. Ons sal sien hoe dinge gaan, maar ek sal graag betrokke wil wees.”

Maar as jou land roep, dan roep jou land. Daar is niks wat in die pad daarvan kan staan nie. Ons sal sien hoe dinge gaan, maar ek sal graag betrokke wil wees.
Lance Klusener

Klusener het nie baie tyd om die kolwers met hul kwale te help nie. Hy gaan dus poog om hul geestelike ingesteldheid, liewer as tegniese aspekte van hul spel, te hanteer.

“Van buite af het dit gelyk na ’n tekort aan intensiteit wat die kolwers gekortwiek het,” sê hy oor Suid-Afrika se futlose vertonings met die kolf in die Wêreldbeker-toernooi vroëer vanjaar.

“Ek haat dit om dit te sê, maar soms het dit net nie reg gelyk vanuit ’n kolfoogpunt nie.

“Die sake wat ek wil hanteer, is intensiteit en geesdrif, ’n goeie teenwoordigheid voor die penne en lyftaal.

“Hoe hoër die vlak waarop jy afrig, hoe meer gaan dit oor geestelike ingesteldheid. Al die ouens hier kan verdedigende houe speel, kan viere en sesse slaan. Dit gaan meer oor hoe jy ’n beurt bou, hoe jou planne lyk.”

Hy weier ook om die jeugdigheid van die span as ’n potensiële verskoning te gebruik, sou die span swak vaar.

“Dit is baie belangrik om daardie reeks teen Indië te wen. Ek hou nie daarvan om te sê ons is jonk en ons herbou nie.

“Nasionale spanne is nie afrondingskole nie. Die publiek eis ook dat jy wedstryde wen. Ek haat: ‘Ons leer, ons ontwikkel, ons groei, gee ons ’n kans.’ Nee. Dit is net ’n verskoning om te misluk. Ons moet van die begin af goed vertoon.

Enoch Nkwe, KSA se waarnemende spandirekteur. Foto: Gallo Images

“Ja, ons speel teen ’n goeie span en dit is oukei om te verloor, maar dit gaan oor hóé jy verloor. Die wyse waarop die Proteas onlangs verloor het, was nie goed nie.”

Enoch Nkwe, die waarnemende spandirekteur (oftewel afrigter), is verheug om Klusener by die span betrokke te hê.

“Hy het baie ervaring en het ’n baie goeie idee oor hoe hy witbalkrieket wil benader,” sê Nkwe.

“Hy was betrokke by verskeie ligas oor die laaste paar jaar en ek kan sien hoe hy ’n enorme invloed gaan hê, nie net op die spelers nie, maar op die ander afrigters ook.”

Meer oor:  Lance Klusener  |  Enoch Nkwe  |  Suid-Afrika  |  Indië  |  Subkontinent  |  Krieket  |  Toer  |  Proteas  |  Hulpafrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.