Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Zubayr Hamza nie bang vir nr. 3-posisie

Dis só moeilik, Joe Root wil dit nie eens doen nie. Selfs Steve Smith is nie mal daaroor nie.

Maar op 24-jarige ouderdom is die onervare Protea-kolwer Zubayr Hamza nie bang om die genadelose taak te verrig om op nr. 3 in toetskrieket te kolf nie.

Zubayr Hamza wil die nr. 3-plek sy eie maak. Foto: Gallo Images

“Dit is ’n baie moeilike posisie om in te kolf,” het Hamza Dinsdag in Port Elizabeth erken, met die St. Georgepark-kolfblad agter hom. Daar sal hy van Donderdag af in die derde toets die Engelse boulaanval weer as die Proteas se nr. 3 aandurf.

“In plaaslike krieket het ek nou al die laaste paar seisoene in daardie posisie gekolf, so ek is gewoond daaraan.”

Hamza word al ’n paar seisoene geoormerk om dié mantel by Hashim Amla oor te neem.

Australië het ook lank na ’n nr. 3 gesoek nadat Ricky Ponting uitgetree het. Ook die Engelse het lanklaas ’n nr. 3 van gehalte gehad.

Smith en Root, onderskeidelik Australië en Engeland se beste kolwers, was nie te geneë om daar te kolf nie. Hulle albei verkies nr. 4, waar ’n kolwer nog ietwat gebuffer is van die nuwe bal, vars boulers en die onsekerheid om van die begin af enige tyd gereed te moet wees om in te stap.

Albei dié lande het onlangs uiteindelik behendige nr. 3’s gekry: Marnus Labuschagne vir die Aussies en tot ’n mindere mate Joe Denly vir die Engelse. Hamza wil hulle dit nou by die Proteas nadoen.

“Ek probeer om die plek my eie te maak en my beste te gee, maar ek leer ook en moet ook aanpas. Hopelik werp dit vrugte af in die volgende toets.

“Die sleutel is om ’n balans te vind tussen om vir lang tydperke te kolf en ook om die gang van die wedstryd te verander.”

Aangesien nr. 3 so ’n taai kolfposisie is en Hamza nog bloedjonk is, het die Protea-afrigter, Mark Boucher, vir hom die versekering gegee dat hy tyd gegun sal word om te ontwikkel.

“Ek het met Bouch gepraat en hy het gesê dit is oukei as ek met tye die verkeerde besluit in die middel neem. Maar ek hou nie daarvan nie. Ek wil in elke beurt my beste gee en hopelik begin ek gouer liewer as later goeie vertonings lewer.”

Jacques Kallis, wat Suid-Afrika in 49 toetse op nr. 3 gedien het, is Hamza se kolfmentor by die Proteas.

“Hy help my baie. Ek het ’n tegniese swakpunt in die vorige twee toetse gehad en hy het saam met my gewerk in die nette om dit reg te stel. Dit gaan alles oor jou uitvoering in die toets.”

Nou, met dié tegniese kreukel uitgestryk, hoop Hamza om groot lopies op St. Georgepark te slaan. Hy het tekens van sy vermoë gewys in die beurte van 39, 4, 5 en 18 wat hy in die eerste twee toetse aangeteken het.

“Dit is gewoonlik ’n goeie blad om op te kolf,” sê hy.

“Veral as die orkes aan die gang kom.”

Meer oor:  Zubayr Hamza  |  Joe Root  |  Steve Smith  |  Jacques Kallis  |  Port Elizabeth  |  Suid-Afrika  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.