
Kyuta Kumagai beoog om ’n loopbaan van soemo-stoei te maak. Foto: Reuters
Die tienjarige Kyuta Kumagai staan uit onder die jong soemo-stoeiers wat in dié gewilde Japanse sport meeding.
Kumagai, wat 85 kg weeg, is twee keer groter as die ander kinders in sy ouderdomsgroep. Hy oorheers tot so ’n mate dat hy teen seuns vyf of ses jaar ouer as hy stoei – en hulle klop.
Hy het verlede jaar mededingers van lande soos Brittanje en die Oekraïne uitgestof om as die o-10-Wêreldkampioen gekroon te word.
Sy oefenprogram, wat deur sy pa, Taisuke, saamgestel word, is genadeloos.
Kumagai oefen ses dae per week sedert sy pa hom as kleuter vir ’n toernooi ingeskryf het en wissel sy tyd tussen ’n plaaslike soemo-klub en gewigte optel. Hy swem ook en doen atletiekoefeninge om aan sy buigbaarheid en plofkrag te skaaf.

Kumagai (middel) ding mee teen seuns wat twee keer ouer as hy is. Foto: Reuters
“Ek het hom niks geleer nie, verskeie tegnieke was natuurlik by hom ingebore,” sê Taisuke, ’n voormalige amateursoemo-stoeier.
“Daar is ’n talent vir soemo en hy beskik oor daardie talent. Hy het die toernooi gewen. Ek het gedink hy beskik dalk oor iets spesiaals.”
Kumagai se motivering is eenvoudig. “Dit is pret om mense ouer as ek te klop,” sê hy.
Hy het saam met sy gesin na Fukagawa naby Tokio verhuis toe sy pa sy talent raakgesien het. Soemo-klubs is volop in dié gebied wat ook die Nominosukune-tempel – glo die tuiste van die god van soemo – huisves.
Pa en seun oefen gereeld teen mekaar en hoewel hul intensiewe sessies Kumagai gereeld uitgeput en in trane laat, glo Taisuke dit is die enigste manier om die beste uit sy seun te haal.
“Ek dink hy kry tog genoeg kans vir eie tyd en om saam met sy maats te speel, ek dink darem nie ek plaas te veel druk op hom nie,” sê Taisuke.

Kumagai, en sy pa, Taisuke, oefen gereeld teen mekaar. Foto: Reuters

Kumagai, en sy pa, Taisuke, oefen gereeld saam. Foto: Reuters
Die sleutel tot enige soemo-stoeier se sukses is ’n streng dieet.
Kumagai eet tussen 2 700 en 4 000 kalorieë per dag, insluitende meer as ’n liter melk en hope proteïene. Steak is sy gunsteling.

Die jong seun het ’n gesonde eetlus. Foto: Reuters
Volgens Taisuke moet sy seun binne die volgende twee jaar nog 20 kg aansit. Dit verbeter glo sy kanse om deur ’n hoëprofiel-klub betrek te word en Taisuke sê daar is reeds belangstelling.
Sy afrigter, die voormalige beroepstoeier Shinichi Taira, glo Kumagai beskik oor die vaardighede om sukses te behaal.
“Hy is tans ’n groot talent, maar ek dink hy kan die vlak van ‘yokozuna’ bereik – die hoogste in die sport” sê Taira.
Kumagai droom groot, maar erken die oefenregime is taai.
“Dit is nie iets wat met woorde soos ‘geniet’ beskryf kan word nie. Wanneer dit taai raak ... ek het dit al soms oorweeg om die sport te laat vaar,” sê hy. – Reuters