Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Weug (16) 1ste vrou by Ferrari se akademie
Die 16-jarige renjaer Maya Weug. Foto: Ferrari

Maya Weug het geskiedenis gemaak deur die eerste vrou te word om haar by Ferrari se renjaerakademie aan te sluit.

Die 16-jarige Nederlander is gekies ná die finale van die Girls on Track - Rising Stars-inisiatief, ’n program wat gesamentlik deur Ferrari en internasionale motorsport se beheerliggaam, die FIA, aangebied word.

BBCSport berig die evalueringskamp het by Ferrari se hoofkwartier in Maranello, Italië, plaasgevind. Weug het Doriane Pin (17), Antonella Bassani (14) en Julia Ayoub (15) uitgestof om haar plek in die akademie te wen.

Die vier finaliste by die die Girls on Track - Rising Stars-inisiatief se evalueringskamp by Ferrari se hoofkwartier in Maranello, Italië. Foto: Ferrari

Weug, wat op sewejarige ouderdom begin knortjorre jaag het, sal deur die akademie voorberei word vir ’n moontlike loopbaan in motorsport.

Sewe studente het al van die akademie na Formule Een gevorder, insluitende die Ferrari-renjaer Charles Leclerc.

“Ek sal nooit hierdie dag vergeet nie! Ek is werklik in my noppies om die eerste vrouerenjaer te wees om my by Ferrari se renjaerakademie aan te sluit,” sê Weug, wat in Spanje gebore is. Haar ma is van België en haar pa van Nederland.

“Die feit dat ek suksesvol was in die finale van die FIA se Girls on Track - Rising Stars-program laat my besef dat ek reg was om my droom na te jaag om ’n renjaer te word.

“Ek sal alles doen om aan die mense wat in my geglo het te bewys dat ek my plek in die Ferrari-akademie verdien en ek kan nie wag om na Maranello terug te keer om my eerste seisoen te begin nie.”

Maya Weug sit in ’n renmotor terwyl sy instruksies ontvang. Foto: Ferrari

Weug sal weer binnekort na Maranello reis vir ’n oefenprogram wat deelname aan die Formule Vier-kampioenskap later hierdie seisoen insluit.

“Hierdie is ’n belangrike oomblik in Maya Weug se loopbaan,” sê Jean Todt, die FIA se president.

“Die FIA se Girls on Track - Rising Stars-program is ’n sleutelkomponent in ons belofte om geslagsgelykheid in ons sport te ondersteun.”

Slegs twee vroue, Maria Teresa de Filippis in 1958 en Lella Lombardi in 1975, het voorheen deelgeneem in ’n F1 Grand Prix.

– Sportredaksie

Meer oor:  F1  |  Ferrari-Renjaerakademie  |  Ferrari  |  Motorsport  |  Maya Weug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.