Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
1ste swart SA ryer trap in Tour de France

Wanneer die Tour de France aanstaande week begin, sal Nicholas Dlamini die eerste swart Suid-Afrikaanse fietsryer word wat aan die wêreld se beroemdste en mees prestigeryke fietswedren deelneem.

Nicholas Dlamini sal aanstaande week die eerste swart Suid-Afrikaner word wat aan die Tour de France deelneem. Foto: Qhubeka Assos

Die plaaslike Qhubeka Assos-span, vir wie Dlamini ry, het Vrydag sy span aangewys vir die Tour, wat op 26 Junie in die Franse kusdorp Brest begin.

Qhubeka Assos se span sal benewens Dlamini bestaan uit Simon Clarke (Australië), Michael Gogl (Oostenryk), Victor Campenaerts (België), Max Walscheid (Duitsland), Sean Bennett (VSA), Sergio Henao (Colombia) en Fabio Aru (Italië).

Die 25-jarige Dlamini, ’n boorling van Kaapstad, se buiging in die Tour kom 20 jaar nadat Robert Hunter in 2001 die eerste Suid-Afrikaner geword het wat in dié toer getrap het.

Sedert MTN-Qhubeka (soos Qhubeka Assos destyds geheet het) in 2015 sy buiging in die Tour gemaak het, het ryers van die vasteland soos Louis Meintjes, Ryan Gibbons, Reinardt Janse van Rensburg (almal SA), Merhawi Kudus en Daniel Teklehaimanot (albei Eritrea) in die span se kleure deelgeneem.

Dlamini, wat ook later vanjaar op die Olimpiese Spele in aksie sal wees, het die afgelope paar jaar ’n klompie hoogtepunte beleef. In 2018 het hy koning gekraai in die Bobaas van die Berge-afdeling in die Tour Down Under in Australië en die afdeling ook in die Tour of Britain gewen.

Die 25-jarige Dlamini, ’n boorling van Kaapstad, se buiging in die Tour kom 20 jaar nadat Robert Hunter in 2001 die eerste Suid-Afrikaner geword het wat in dié toer getrap het.

Hy moes egter ook ’n paar hindernisse oorkom. In Desember 2019 het veiligheidswagte hom op ’n oefenrit in die Tafelberg Nasionale Park aangerand. Sy arm is in die voorval gebreek. Hy is geopereer en kon ’n paar weke daarna nie op sy fiets klim nie.

Hy was skaars in Februarie 2020 terug op sy fiets toe die Covid-19-pandemie die wêreld tot stilstand gebring het.

Dlamini sê hy was oorweldig en emosioneel toe hy van sy insluiting verneem het. Sy vrou, Zia, was die eerste mens met wie hy die nuus gedeel het.

“Om gekies te word om in my eerste Tour de France te ry, is ’n droom wat waar word. Dit was my droom as kind en dit voel onwerklik dat dit nou waar word,” sê Dlamini.

“Ek hoop regtig dat dit as ’n simbool van hoop en inspirasie vir ’n menigte jong Suid-Afrikaners en mense oor die wêreld heen sal dien. Ek hoop mense wat hard werk om hul drome te verwesenlik, sal hiermee sien dat enigiets moontlik is.”

Nicholas Dlamini hoop sy insluiting in die span vir die Tour de France sal ander met groot drome inspireer. Foto: Qhubeka Assos

Dlamini het in 2019 en 2020 aan nog ’n Grand Tour, die Vuelta a España, deelgeneem, en sê daardie ervaring het gehelp om hom te slyp.

“Om dit uiteindelik tot in die span vir die Tour de France te maak, is ’n ongelooflike gevoel. Ek sien uit daarna om die geleentheid met albei hande aan te gryp en my beste te lewer.

“My doelwit vir die Tour is regtig eenvoudig: Om my beste te gaan lewer,” sê Dlamini.

“Daar is 21 geleenthede (skofte). Sommige dae sal ek die vryheid hê om in die wegbreekgroep te gaan en te kyk of ek so kan wen, en sommige dae sal ek die span aan die voorpunt van die peloton moet hou. Uiteindelik moet ek die span op die beste moontlike manier help.”

Qhubeka Assos stoot ’n gedugte span in die veld, selfs in die afwesigheid van die Europese padkampioen en naelryer, Giacomo Nizzolo (Italië), wie se fokus vanjaar op die Wêreldkampioenskappe in September in Vlaandere is.

Aru en Henao is albei bedrewe klimmers. Aru het in 2015 die Vuelta gewen en in 2017 vyfde in die Tour geëindig, terwyl Henao in 2017 Paris-Nice gewen het.

Meer oor:  Tour De France  |  Nicholas Dlamini  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.