Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
2 medaljes vir Hattingh by Afrika-Spele

Twee jaar nadat hy sy hand ernstig beseer het in ’n houtwerk-ongeluk het die 23-jarige Louis Hattingh Woensdag in Rabat, Marokko, sy soetste dag nóg in ’n kano gehad.

Hattingh, wat eers vroeër vanjaar weer begin deelneem het ná ’n besering wat sy belowende loopbaan vir meer as ’n jaar onderbreek het, het Woensdag binne 40 minute goud én silwer by die Afrika-Spele gewen.

Louis Hattingh het Woensdag twee medaljes by die Afrika-Spele gewen. Foto: Gameplan Media

Die jong KwaZulu-Nataller het eers silwer in die K1-eindstryd oor 1 000 meter gewen, voor hy saam met Jarryd Gibson goud in die K2-kano oor dieselfde afstand gewen het.

Die twee Suid-Afrikaners het meer as ses sekondes voor hul naaste teenstanders, die Tunisiërs Mohamed Mrabet en Outail Khatali oor die wenstreep gegly. Hul wentyd was 3 minute en 21.316 sekondes, teenoor die Tunisiërs se 3:27.145.

Vroeër het Mrabet net te veel energie gehad vir Hattingh om by te bly. Die Tunisiër het die K1-eindronde in 3:30.033 gewen, met Hattingh tweede in 3:31.603.

Hattingh en die 21-jarige Gibson se kano-sukses het Span Suid-Afrika se tweede goue medalje van die dag (en 27ste van die Spele) opgelewer.

Woensdag se eerste is gehang om die nek van die 30-jarige fietsryer Maroesjka Matthee, wat haar neus voorgehou het in ’n naelren na die eindstreep in die padfietsren oor 65 kilometer.

’n Ongeluk waarin haar landgenoot Zanri Rossouw so ernstig beseer is dat sy hospitaal toe geneem is, het egter ’n skaduwee gegooi oor Matthee se sukses. Rossouw was saam met Matthee in die span wat Saterdag goud in die span-tydtoets gewen het. Sy het haar linkerskouer in die ongeluk erg beseer.

Matthee het aan TeamSA.co.za gesê sy moes konsentreer om kalm te bly ná Rossouw se teenspoed en haar spanmaats bedank vir haar sukses.

“Jo (van de Winkel, wat negende geëindig het) was regtig goed in die wegbreek. Ons het nommers gehad, met vier ryers (Matthee, Rossouw, Van de Winkel en Afrika-tydtoetskampioen Ashleigh Pasio) en het uit die staanspoor hard gewerk. Die ongeluk was vanselfsprekend ’n groot jammerte, maar ek het geweet as ons in die wegbreek-bondel bly sal ons ’n groot kans in die naelrit aan die einde hê,” het Matthee gesê.

Merkwaardig genoeg het Suid-Afrika nou ses goue medaljes verower in die ses fietsry-kompetisies waarin die land ’n verteenwoordiger gehad het. Tiffany Keep het goud in die bergfietsry gewen, Pasio en Ryan Gibbons was baas in die onderskeie tydtoetse en Suid-Afrika het koning gekraai in sowel die mans as die vroue se span-tydtoetse.

Span Suid-Afrika het Woensdag agt medaljes verower: twee goud, drie silwer en drie brons.

Op die atletiekbaan het Thapelo Phora tweede in die 400 m-eindronde geëindig met ’n tyd van 45.59 sekondes. Botswana se Scotch Leungo (45.27) het gewen.

Wayne Snyman het brons in die 20 km-stap opgeraap.

Die 21-jarige Jo-Ané van Dyk het in die spiesgooi een trappie hoër op die podium gaan staan as vier jaar gelede, deur silwer te wen.

Van Dyk se beste afstand van 55.38 was net-net te kort om kers vas te hou by die 55.88 waarmee die Nigeriër Kelechi Nwanaga gewen het.

Sunette Viljoen was met 53.44 derde.

In die 100-hekkies het Taylor Bieldt brons gewen met ’n tyd van 13.40.

Meer oor:  Sunette Viljoen  |  Medaljes  |  Afrikaspele  |  Roei  |  Padfietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.