Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
60ste hoofstuk van die ‘Berg’ word geskryf

Die geskiedenis van die Bergrivier-kanomarathon is met bloedsweet en trane geskryf en die 60ste een gaan geen uitsondering wees nie. Dié slag is Covid-19-regulasies ’n ekstra uitdaging.

Gelukkig kan die rivier nog sterk loop wanneer daar van Donderdag tot Sondag in vier skofte oor 240 km (52, 56, 75 en 57 km) van die Paarl na Velddrif meegeding word. Dit word beskou as die langste en taaiste wedvaart ter wêreld op enige rivier.

Giel van Deventer in 2012 by die eindpunt in Velddrif. Hy gaan nou probeer om die eerste kanovaarder te word wat die Bergrivier-kanomarathon die 50ste keer voltooi. Foto: Eben Human

Dit is ook nou ’n gepaste tyd om te dink aan Suid-Afrikaanse kanovaart se twee groot pioniers – Ian Player en Willem van Riet. Hule sal waarskynlik nog langer onthou word vir hul groot indruk op natuurbewaring in Suid-Afrika en die res van Afrika.

Op ’n kano ervaar jy die natuur eerstehands en kan jy selfs op die Bergrivier die kreet van die visarend hoor. Player en sy broer Gary is deur hul pa aangemoedig om te boks en hulle het ook saam met hom gehengel terwyl hy by ’n goudmyn aan die Rand gewerk het.

Ian Player het as jong natuurbewaarder in KwaZulu-Natal begin roei en was die vader van die Dusi-marathon. As natuurbewaarder is hy internasionaal vereer vir die wyse waarop hy tot die redding van witrenosters gekom het, terwyl Van Riet op sy beurt ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van oorgrensparke in Afrika.

Vir ’n jong Van Riet was wyle Player ’n inspirasie. Van Riet het eers saam met ’n paar skoolmaats die Bergrivier verken en sy pa en ’n paar vriende was daarna in 1962 die dryfveer agter die eerste Bergrivier-kanomarathon.

As avonturier het Van Riet deur die groot riviere van Suider-Afrika geroei en in sy boek hieroor vertel van sy noue ontkomings met krokodille en seekoeie op riviere soos die Kunene en Pongola. Hy moes egter tot 1971 wag vir sy enigste sege op die Bergrivier.

Nollie Meiring, wenner van die eerste Bergrivier-kanomarathon. Sy prys was ’n Volkswagen Kewer. Die Burger het ’n groot rol gespeel om voorbrand te maak vir die wedvaart. Foto: Argief

Die Vrystater Nollie Meiring van Parys was in 1962 die eerste wenner. Sy prys was ’n VW-kewer nadat Die Burger ook ’n groot rol gespeel het om reklame te maak vir die nuwe wedvaart.

Die sterkgeboude veldatleet Andries Kotze het ’n blikkano gebou en met sy swaar monster tot by die eindpunt in Velddrif gebeur. Hy sou daarna ook vir baie jare die koerant se getroue kanoverslaggewer wees.

Daar was baie veterane van die vroegste jare wat vir jare vasgebyt het met hul jaarlikse deelname. Die Paarlse boer Jannie Malherbe wat drie seges (1963, 1964 en 1965) behaal het, het op 79 sy 43ste wedvaart voltooi. Nou wil hy op 81-jarige ouderdom weer sy staal wys.

Giel van Deventer was erg teleurgesteld toe verlede jaar se wedvaart afgestel is weens Covid-19-regulasies en het toe nie-amptelik sy 50ste marathon geroei. Hy is vasbeslote om sy 50ste wedvaart te voltooi en sal dan seker agter sy naam kan skryf: 50 (+1).

André Collins wat twee keer gewen het, het ook in 43 wedvaarte die padbrug by die eindpunt in Velddrif gesien. Sy bekendstelling aan die wedvaart het op ’n skoolpartytjie op ’n Vrydagaand in Bellville begin.

Roelof van Riet het hom toe vertel hy wil met sy fiets na Velddrif ry om te sien hoe sy broer die eerste wedvaart wen.

Albei se ouers is eers meegedeel dat hulle oor en weer slaap voor hulle op hul fietse gespring en deur die nag na Velddrif getrap het. Collins het nog rugby gespeel en aan veldlope deelgeneem toe hy daarna in 1968 sy eerste Bergrivier-marathon aangedurf het.

Hank McGregor is die ongetwyfelde “Koning van die Berg”. Foto: Argief

Kort voor die Berg het hy sy nuwe kano in die rivier verloor en toe met ’n geleende kano deelgeneem. Die een stuurkabel het gebreek en hierna het hy byna meer geswem as geroei na Velddrif.

Langs die rivier het ’n klompie boere gebraai en die verkluimde roeier genooi om eers iets saam te geniet. Die volgende jaar het die boere op dieselfde plek gekuier en toe hulle Collins onder die voorlopers sien, nader geroep vir nog ’n stukkie braaivleis. Soos vir baie jare daarna het dié verbete vegter verkies om op sy tande te kners, want hy het altyd daarvan gehou om enduit hard te spook op die rivier.

As jy Collins vra of die Berg taaier is as Dusi, is sy antwoord aanvanklik heel diplomaties: “As jy op topvlak meeding, is elke wedvaart baie taai.”

Daarna sal Collins daarop wys dat die Dusi ’n korter wedvaart is in meer aangename weer. Die snerpende koue, soms lae riviervlakke, beboste dele op veral die eerste skof en selfs ’n stormwind van voor, is van die elemente wat jy moet kan trotseer. Vir ure sal jy met jou arms spook en vasbyt om vorentoe te beweeg met ’n seer sitvlak op jou skommelende kano.

Willem van Riet (agter) en sy seun Louw saam op die Bergrivier. Foto: Argief

Ná Willem van Riet se sege in 1971 en Collins se eerste in 1972 het die Kaap ’n klomp gewilde wenners gelewer voor die land se terugkeer in 1992 na die Olimpiese Spele en internasionale sport.

Sunley Uys (1973, 1974, 1981), JT Basson (1975, 1985) en Stefan Hugo (1976, 1977, 1980, 1982, 1984) was die Kaapse sterre in ’n tyd toe Chris Greeff (1979), Greyling Viljoen (1983), Robert Clegg (1987), Mynhardt Marais (1988) en Graham Monteith (1989) ook seges behaal het.

Daar was ook vroue wat uitgeblink het in hierdie moordende wedvaart. Daar is van die manne wat sweer ’n vrou se pyndrempel is baie hoër as hulle s’n en praat met groot bewondering van hul vertonings.

Vroue het van 1978 amptelik begin meeding, met Cheronne Botes die eerste wenner. Marinda Hartzenberg het daarna tussen 1983 en 1989 altesame sewe seges behaal en dit is tussen 1992 en 2000 deur Jean Wilson geëwenaar.

Bianca Beavitt, ’n driemalige kampioen, onlangs in aksie by Skooltjie op die Bergrivier. Sy kan as gunsteling onder die vroue wegspring. Foto: Eben Human

Abbey Miedema het vier keer tussen 2004 en 2008 gewen en Alexa Cole (2001 tot 2005) het haar voorbeeld gevolg. Nou hoop Bianca Beavitt (wenner in 2015 tot 2017 se kampioen) om dit in vanjaar se Covid-wedvaart te ewenaar wanneer die deelnemers in groepe wegspring.

Koud, verkluim en met seer spiere sal roeiers jou vertel van die ligter oomblikke op die water. Dan word daar met groot smaak vertel van die groot oorstromings in 1985 toe JT Basson die onverwagte wenner was.

Om te kon sien hoe die rivier deur sy walle gebreek het om aan sy linkeroewer ’n meer te vorm op die laaste skof, was iets besonders. Collins en Stefan Hugo was onder die voorlopers en het na links geswenk en op die Soutrivier beland. Hulle is deur almal agter hulle gevolg en eers toe hulle die kerktoring van Hopefield sien, het hulle besef hoe ver hulle van die roete gedwaal het.

Daar is gehardloop tot by die spoorlyn en daarna terug na die rivier gemik.

Toe ’n treindrywer hierna ’n drawwende Garth Watters vra of hy hom kon oplaai, het hy geantwoord: “Ek is ’n Springbok en ek kan nie so iets doen nie.”

Ja – dit was uiteindelik ’n dag waarop baie deelnemers hul kano’s in die kondukteurswa van ’n trein gelaai het. Party het glo ook soos vinke aan die stadig bewegende trein gehang.

Ná 1992 het kanovaart ’n meer professionele sport geword. Die nuwe kanohelde was nie Kapenaars nie, maar eerder manne soos Robbie Herreveld (kampioen van 1991 tot 1996), Michael Cheesman (1997 tot 1999) en Jacques Theron (2002 tot 2004) voordat Hank McGregor begin oorheers het.

In 1995 het 23 roeiers van agt lande kom deelneem toe Giel van Deventer organiseerder van die wedvaart was. Die eerste oorsese wenner was egter die Hongaar Adrian Boros eers in 2017.

McGregor se eerste sege in 2000 is gevolg deur oorwinnings van Jacques Theron (2002 tot 2004). Van 2005 het McGregor nog nege seges ingeryg tot in 2016. Hy gaan glo vanjaar deelneem aan ’n wedvaart wat die hooforganiseerder Brandon MacLeod baie hoofbrekens besorg het en sal moeilik geklop word.

Hou maar ook vir Andy Birkett dop – ’n man wat laas in 2014 gewen het.

Eben Human is ’n voormalige sportjoernalis van Die Burger, wat verskeie Bergrivier-kanomarathons in sy loopbaan gedek het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.