Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Keniaanse besoek help Rynhardt
Wayde van Niekerk
Die Kovsie Rynhardt van Rensburg het menige kenner verras met sy vertoning in die myl om met die Puk Jerry Motsau af te reken. Foto: Catherine Kotze | SASPA

BLOEMFONTEIN. – Daai drie weke in Kenia in Desember verlede jaar het Maandagaand op die Varsity-atletiekbyeenkoms in Pretoria weer vir die Kovsie-atleet Rynhardt van Rensburg dividende gelewer.

Die 22-jarige Van Rensburg het die myl-wedloop vir mans in ’n tyd van 4:05.60 gewen – en in die proses die groot gunsteling en nasionale kampioen in die 1 500 m, Jerry Motsau, om die louere geklop.

Motsau (NWU) is dieselfde atleet wat ’n ruk gelede op die Suid-Afrikaanse senior byeenkoms in die 1 500 m vir nog ’n Kovsie, Johan Cronjé, hakskene gewys het, maar hy het Maandagaand geen antwoord gehad vir Van Rensburg se uithouvermoë nie.

“My uithouvermoë was nog altyd een van my swakpunte gewees, juis daarom is ek en my pa en afrigter, Derek van Rensburg, drie weke Kenia toe.

“Dáár het ek aan my uithouvermoë gewerk. Ek het in die oggende om vyfuur opgestaan en om sesuur saam met die Keniaanse atlete op lang afstande van 15 km tot 18 km te gaan sweet. Dit het my totaal uit my gemaksone gehaal, maar dit was beslis van waarde,” het Van Rensburg gesê.

Wat sy vertoning in die myl-wedloop nog meer indrukwekkend maak is dat Van Rens-burg nog die naweek voor die Varsity-byeenkoms aan die Suid-Afrikaanse studente- kampioenskap in Pretoria deelgeneem het.

“Ek het Vrydag in die uitdunne van die 1 500 m gehardloop en later in die eindronde derde gekom.

“Dan het ek Saterdag in die uitdunne van die 800 m gehardloop en daarna in die eindronde tweede geëindig. Dit was dus ’n taai naweek gewees en dit is dus duidelik dat die reis Kenia toe baie beteken het,” het Van Rensburg bygevoeg.

Die Suid-Afrikaanse ope-kampioenskap is om die draai, maar Van Rensburg gaan nie op 9 en 10 Mei in Potchefstroom in aksie wees nie.

“Ek gaan die kans gebruik om te rus voordat ek die eerste week in Junie na Europa vertrek.

“Daar is ’n hele paar byeenkomste waar ek wil gaan deelneem, maar ons moet nog besluit waar en wanneer,” het Van Rensburg bygevoeg.

* Benewens Van Rensburg het vier ander Kovsies podiumplekke op die Varsity-byeenkoms in Pretoria behaal.

Soos verwag het die Suid-Afrikaanse kampioen Wayde van Niekerk die 400 m vir mans gewen, terwyl JVA Steytler in die hoogspring koning gekraai het. Gideon Trotter was tweede in die 200 m, terwyl Liriska Botha derde was in die 400 m-hekkies vir vroue.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.