Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
Affies se Nicci in uitgelese geselskap
Nicci Oosthuizen (17) van die Afrikaanse Hoër Meisieskool is in die Suid-Afrikaanse o.21-netbalspan se oefengroep ingesluit. Foto: Wim Pretorius

Wanneer Nicci Oosthuizen (17) haarself voorstel, sal jy nie sommer dink dat sy met ’n besonderse stukkie geskiedenis agter haar naam pronk nie.

Dié matriekleerling aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool (Affies) in Pretoria is die eerste leerling wat in die Suid-Afrikaanse o.21-netbalspan se oefengroep ingesluit is vir dié sport se Wêreld-jeugbeker, wat geskeduleer is om in September in Fidji gehou te word.

Die omvang van haar prestasie het duidelik nog nie by haar ingesink nie.

“Ek het nog glad nie eens daaraan gedink nie,” sê sy verleë wanneer sy uitgevra word oor die emosies wat ’n mens sal dink saam met so ’n prestasie gepaard sal gaan.

Dis ook moeilik om jou in te dink dat haar liefde vir die sport eers op 10-jarige ouderdom begin het.

“Ek het eers in gr. 4 begin netbal speel. Voor dit het ek aan ballet, atletiek en swem deelgeneem,” sê sy.

Dit was eers toe sy dié sport op die proef gestel het, wat die netbal-gogga haar behoorlik gebyt het.

“Eers toe ek netbal begin speel en dit verstaan, het ek besef dat dit eintlik is waar my passie lê. Van daar af was dit netbal, netbal en nogmaals netbal.”

Eers toe ek netbal begin speel en dit verstaan, het ek besef dat dit eintlik is waar my passie lê. Van daar af was dit netbal, netbal en nogmaals netbal.
Nicci Oosthuizen

Haar afrigter by Affies, Amanda Mynhardt, ’n voormalige Protea-kaptein, het vroeg in haar skoolloopbaan al Oosthuizen se talent raakgesien.

In gr. 8 het sy vir die o.14A-span gespeel voordat Mynhardt haar die volgende jaar in die eerste span ingesluit het.

“Onder haar (Mynhardt se) afrigting en leiding het ek besef dat netbal ná skool eintlik ’n groot sport is. Dit is my droom: ek wil eendag dit as ’n beroepsport beoefen en hopelik my buiging vir die Proteas maak.”

Oosthuizen, wat ’n senterbaan-speler is, weet dat sy verskeie ander talentvolles uitgestof het vir ’n plek in die o.21’s se groep.

“Daar is geweldig baie talentvolle aanvallers in Suid-Afrika en enigiemand kan in dié posisie gekies word, so ek is werklik dankbaar vir die geleentheid,” sê sy.

Sy gaan in Maart saam met die o.21’s se nasionale span in ’n toetsreeks teen Uganda in aksie wees, waarna die fokus sal verskuif na proewe vir die Wêreld-jeugbeker.

In 2023 sal Kaapstad gasheer speel vir die Wêreldbeker-toernooi en Oosthuizen hoop om haar droom om die nasionale span op senior vlak te verteenwoordig dan sal kan verwesenlik.

Amanda Mynhardt, afrigter van die Afrikaanse Hoër Meisieskool se eerstenetbalspan, gesels oor Nicci Oosthuizen se ontwikkeling as speler. Foto: Wim Pretorius

Ofskoon sy eendag ook oorsee wil gaan speel, wil sy vir eers op eie bodem bly, waar sy van plan is om agronomie – die studie en wetenskap van gewasproduksie en die stelsels wat daarvoor gebruik word – ná skool by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

Mynhardt sê dat Oosthuizen vroeg al ’n indruk op haar gemaak het.

“Van ’n jong ouderdom af het sy kwaliteite ten toon gestel wat besonders was. Sy is een van daardie spelers wat op jou pad kom en jy dadelik weet vir groot dinge beskore is,” sê Mynhardt.

“Sy is ongelooflik talentvol, maar dit is haar dinkwerk wat haar briljant maak.”

Oosthuizen het sommer vinnig haar afrigter se vertroue in haar gestand gedoen toe sy tydens die Wildeklawer-netbaltoernooi in Kimberley in 2018, toe sy in gr. 9 was, as die o.19’s se Senterbaanspeler van die Toernooi aangewys is.

Meer oor:  Pretoria  |  Netbal  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.