SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nog Sport
AfriForum pak netbalpresident oor ‘rassisme’

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan Vrydag opdrag gegee om ’n klag in te dien teen Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika (NSA).

In die klag word NSA versoek om die president te ondersoek nadat AfriForum klagtes ontvang het dat Molokwane haar na bewering wangedra en rassistiese uitlatings gemaak het op die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Augustus vanjaar in Johannesburg.

Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika (NSA).Foto: Gallo Images

AfriForum het Vrydag in ’n mediaverklaring gesê hy het ’n prokureursbrief van Daniël Eloff, namens Hurter Spies Prokureurs in Pretoria, by NSA se kantoor in Arcadia, Pretoria, afgelewer en ’n e-pos aan Blanche de la Guerre, uitvoerende hoof, gestuur.

AfriForum sê in die mediaverklaring nie namens wie hy optree nie.

Hy beweer lede van die publiek het op 7 Augustus ten tyde van die wedstryd op baan 1 tussen die Noord-Kaapse span ZF Mgcawu en Waterberg van Limpopo gehoor hoe ’n groep ondersteuners onwelvoeglike en opruiende kommentaar oor die spelers en die skeidsregters lewer.

AfriForum beweer die ondersteuners is aangehits deur Molokwane met “negatiewe kommentaar wat die waardigheid van spelers aantas”.

Sy het hulle glo ook met “afbrekende opmerkings, wat op ras gegrond is, aangehits om sekere spelers te beseer”.

Volgens AfriForum het Molokwane ook gesê die spanne het nie aan die kwotastelsel voldoen nie en weens rassisme nié swart spelers gekies nie.

AfriForum stel dit nie duidelik na watter spanne Molokwane glo sou verwys nie.

Dié spanne het in die seniors se Afdeling B5 AfriForummeegeding.

Volgens AfriForum ondersteun hy tans ook Marguerite Rootman, voormalige afrigter van die Baobabs, wat in die nasionale Premierliga (Telkom Nasionale Liga) deelgeneem het.

AfriForum beweer Rootman is deur ’n ongekwalifiseerde swart afrigter vervang.

Volgens die organisasie het Anna Ledwaba, Rootman se opvolger, net ’n vlak 1-kwalifikasie.

Henk Maree, AfriForum se woordvoerder oor sport, sê in die verklaring Molokwane se optrede en uitlatings is “totaal en al onaanvaarbaar”.

“ ’n Mens sou verwag dat iemand in haar posisie eerder sou probeer om netbal in Suid-Afrika te bevorder, maar in dié stadium wil dit voorkom asof sy net daar is om sekere spelers te bevoordeel.”

Maree sê AfriForum gaan die Internasionale Netbalfederasie (INF) oor die kwessies nader.

Netwerk24 het NSA Vrydagmiddag om kommentaar genader, maar geen reaksie ontvang nie.

* Molokwane is een van die benoemdes as Administrateur van die Jaar vir die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings, wat Sondag in Durban oorhandig word. NSA is in ses afdelings benoem.

Meer oor:  Afriforum  |  Cecilia Molokwane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.