Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
AfriForum verkla Netbal Suid-Afrika

’n Week nadat Solidariteit vir Netbal Suid-Afrika (NSA) met hofsake gedreig het oor die toepassing van hul transformasiereëls, het die burgerregteorganisasie AfriForum ook stem dik gemaak daaroor.

Nog geen finale besluit oor moontlike tugoptrede teen die Sunbirds-afrigter, Theresa Rossouw, is geneem nie.

AfriForum het gister in ’n verklaring gesê hy het NSA by die Internasionale Netbalfederasie (INF) gaan verkla omdat “junior netbalspelers (o.12 en o.18) nie ná die finale skooluitdunne in Gauteng die span haal nie weens oënskynlike diskriminasie wat sover as Mei 2019 terugstrek”.

“AfriForum was genoodsaak om ’n klag by die Internasionale Netbalfederasie (INF) in te dien nadat dit alle ander moontlike plaaslike remedies uitgeput het om dié dispuut deur middel van interne NSA-strukture by te lê,” lui die verklaring.

Volgens die burgerregteorganisasie het hulle die puntekaarte van sommige spelers by die Gauteng-uitdunne ontleed en “tot die gevolgtrekking gekom dat spelers wat die span op meriete sou kon haal weens hul ras uitgesluit is”.

“ ’n Rassekwotastelsel vir die insluiting van atlete, afrigters en bestuurders druis lynreg in teen die regulasies van die INF, die Internasionale Olimpiese Komitee en die Statebondspelefederasie, wat enige vorm van rassediskriminasie in sport verbied. Suid-Afrikaanse Skolenetbal en Gauteng Skolenetbal is by NSA geaffilieer, wat op sy beurt by die INF geaffilieer is. AfriForum meen die bewyse dui daarop dat daar ten minste ’n prima facie-saak teen NSA bestaan omdat dit die INF se statute en regulasies oortree.”

AfriForum se standpunt eggo dié van Solidariteit, wat verlede week sy ongelukkigheid met die transformasiereëls by NSA se Nasionale Netballiga uitgespreek het.

Die Mpumalanga Sunbirds is in die halfeindronde van dié liga se tweede divisie van al sy punte gestroop omdat hulle vir ’n ruk met een wit en ses swart spelers gespeel het. Die organisasie se reëls bepaal dat ’n span te alle tye ’n rassesamestelling van 5/2 of 4/3 moet handhaaf.

’n Rassekwotastelsel vir die insluiting van atlete, afrigters en bestuurders druis lynreg in teen die regulasies van die INF.

Solidariteit het dié reël bestempel as “niks anders nie as ’n wispelturige en arbitrêre kwotastelsel” wat “nie net ongrondwetlik (is) nie, maar ook teenstrydig met internasionale sportliggame soos die INF se regulasies oor diskriminasie”.

Blanche de la Guerre, die uitvoerende hoof van NSA, het gister gesê hulle is deur die INF ingelig dat ’n klagte oor die SA organisasie ontvang is.

“Ons het dit nog nie bespreek nie,” het sy bygevoeg.

De la Guerre het ook gesê NSA het verlede Sondag ’n goeie vergadering met Mpumalanga se netbalunie gehad oor die insident by die Nasionale Netballiga.

“Ons lederaad (die presidente van die nege netbalpresidente en die voorsitters van NSA se 52 distrikte) sal die kwessie bespreek.”

Wat moontlike tugoptrede teen die Sunbirds-afrigter, Theresa Rossouw, betref, is daar volgens De la Guerre nog nie ’n finale besluit geneem nie, omdat NSA se uitvoerende raad nog nie daaroor kon vergader nie.

Meer oor:  Nsa  |  Netbal  |  Solidariteit  |  Afriforum  |  Kwotas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.