Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nog Sport
‘Afrikaanse’ Kiwi laat speke sing in Duitsland

’n Eerste generasie-Nieu-Seelander, wat Afrikaans verstaan, gaan haar land in Februarie by die Wêreld-baanfietskampioenskap in Duitsland verteenwoordig.

Die 22-jarige Bryony Botha, ’n boorling van Takapuna in Nieu-Seeland, gaan aan die spanagtervolging deelneem. Sy is ’n bedrewe fietsryer, wat verlede jaar ’n bronsmedalje by die Wêreldkampioenskap verower het en in 2018 ’n silwer by die Statebondspele.

Bryony Botha in aksie by die Wêreldbeker-baanbyeenkoms in 2019 in Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

Sy sê dat sy nie Afrikaans kan praat nie, maar dit verstaan omdat sy as kind daaraan blootgestel is. Haar ouers, Petrus (wat alom as Feyes bekend staan) en Lynette, het in Midrand in Suid-Afrika gewoon en in 1995 na Nieu-Seeland geëmigreer.

“My ouers het besluit om te emigreer, omdat hulle nog ’n kind (Bryony) wou gehad het, maar haar in ’n veiliger omgewing wou grootmaak.

“Ek het ’n ouer suster (Leigh-Ann Botha), wat 12 jaar ouer as ek is. Sy is in Suid-Afrika gebore en het daar gewoon totdat sy tien jaar oud was,” sê Botha.

Sy vertel dat haar ouers tweetalig was, maar dat hulle Afrikaans met mekaar, en Engels met haar suster gepraat het.

“Ek kan nie Afrikaans praat nie, maar kan dit ’n bietjie verstaan. Toe ek baie klein was, het my ouers met my Afrikaans gepraat en ek dink dis hoe ek van die taal geleer het.

“My ouers sou gereeld Afrikaans met mekaar en hul Suid-Afrikaanse vriende in Nieu-Seeland gesels, totdat my ma oorlede is aan kanker toe ek tien jaar oud was,” sê Botha.

Bryony Botha is as kind aan Afrikaans blootgestel. Foto: Getty Images

Dit was juis die afsterwe van haar ma, wat haar pa en later ook haarself, na fietsry aangetrek het.

“Ek was ’n baie sportiewe kind, wat omtrent elke liewe sport probeer het. Maar my liefde vir fietsry het ná my ma se afsterwe begin.

“My pa het begin fietsry as ’n manier om die verlies te verwerk. Ek het vinnig begin belangstel. Ek het van fietsry gehou, omdat dit iets is waarmee ek regtig goed is.

“Boonop is ek ’n baie mededingende persoon en dit het my honger gemaak vir meer sukses,” sê Botha.

Aanvanklik het haar pa haar afgerig en ook saam met haar geoefen. Sy vertel dat hy deesdae net saam met haar ry in pretritte “omdat ek te vinnig vir hom geraak het”.

Behalwe vir die Wêreldkampioenskap, hoop Botha om later vanjaar ook by die Olimpiese Spele in Japan haar staal te wys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.